KKNK op Oudtshoorn kerngesond

“Aanvanklike kaartjieverkope dui daarop dat die KKNK gesond is. Daar is vanjaar 6% meer teaterkaartjies as verlede jaar verkoop en ons is veral trots daarop dat kaartjieverkope vir Uitkampteater meer as verdubbel het, teenoor verlede jaar se eerste aanbieding.” So sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK wat verlede Saterdag (15 April) op Oudtshoorn tot ’n einde gekom het.

Volgens Snyman is vanjaar se feesprogram deur ’n hele aantal unieke belewenisse gekenmerk. By die Uitkampteater is die Nederlandse ervarings met spieëls, Diep en Wentel, flink bygewoon en die uitbreiding van dié projek om ook kinderteater by Arbeidsgenot in te sluit, het van menige jong feesgangers, teatergangers gemaak. Baron van Reedestraat se lywige straatteaterprogram, het aan feesgangers die geleentheid gegee om self ook kunstenaars te word en groot gehore is hiervoor getrek.

’n Projek is ook geloods om nuwe teater-resensente te ontwikkel. “Kritiek is daarop gemik om kunsjoernalistiek in Suid-Afrika te bevorder en te ondersteun. Die doel is om aan individue met ’n belangstelling in kunsjoernalistiek ’n geleentheid om vaardighede in die skryf van analitiese en in diepte resensies te bied,” sê sy.

Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, sê die inhoud van die feesprogram was van hoogstaande gehalte. “Dit was wonderlik om die magdom jong talent te beleef en hul kreatiwiteit en entoesiasme was ’n inspirasie. Wat ’n vreugde om Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in die Klein Karoo te vier,” sê hy.

Behalwe vir teater- en musiekproduksies, was daar volgens Theart vele ander juwele, soos straatteater van regoor die wêreld in Baron van Reedestraat, Danie Marais en Haidee Muller se ATKV-Kampvuuraande, Uitkampteater se uitgebreide en uitstaande aanbiedinge, Speelbos – die nuwe kinderarea by die fees – en ook die oorhandigingseremonie van die Vryheid van die Dorp aan Evita Bezuidenhout.

“Daniel Hugo se keurige hand en vaardigheid met die boekeprogram was ’n hoogtepunt en dit was ’n voorreg om dié week politici, digters, skrywers, akteurs, regisseurs, tegnici, kunstenaars en musikante in die Klein Karoo byeen te hê – om nie net gehore te vermaak nie – maar om te debatteer, argumenteer en sodoende konstruktief en deur middel van die kunste ons land en wêreld se kwessies te takel,” sluit hy af.

“Ons wil graag al die borge, vennote en feesgangers wat die KKNK saam met ons beleef het bedank, en sien daarna uit om volgende jaar van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April 2018 die feestelikheid op Oudtshoorn voort te sit,” sê Snyman.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?