Gunsteling wyne vir Maart

Suid-Afrikaners kies nogal hul wyn uit gewoonte. As ons op pad is na ’n piekniek op ’n sonskyndag neem ons graag ’n bottel Sauvignon Blanc saam. Koue aande vra weer vir ’n mooi rooie, verkieslik ’n Cab, Merlot of Shiraz.

Hierdie is almal lieflike soorte, en daar is tog niks daarmee fout dat jy jou smaak ken nie. Nou en dan is dit tog goed om jou palet bietjie uit te daag.

Liezel Malherbe van 9Lives.co.za deel ’n paar unieke wyne wat jy gerus kan probeer, van ’n vars wit Zinfandel tot gehoute Chenin Blanc en ’n rooiwyn vir ’n warm dag.

Blaauwklippen White Zinfandel 2016
R112, blaauwklippen.com

Ek het hierdie wyn geproe by ’n onlangse Blaauwklippen geleentheid, aangebied by die Cape Grace hotel langs die Waterfront. Dit was ’n perfekte metgesel vir die helderblou dag, met koue water wat liggies teen die bote klots in die hawe buite ons venster.

Die wyn het ’n aantreklike perske-pienk kleur. Ek het pienk peper en roos op die neus opgetel, gevolg deur ’n palet gevul met lietsjie en perskes. Dit sal mooi lyk op enige tafel, en ek sal dit graag bedien met seekos en slaaie.

Die 2016 is amper uitverkoop, so hou ’n ogie uit vir die 2017 wat eersdaags vrygestel word.

Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2015
R130, vinoteque.co.za

Ons het die bottel oopgemaak op ’n hittige Vrydagaand en dit was ’n perfekte manier om af te koel. Ek het ’n mondvol koejawel, appeliefie en perkes gekry, met ’n ondertoon van komkommer, vars kruie en gesnyde gras wat die geure balanseer het.

Die druiwe kom van droëland-wingerde by Darling wat blootgestel word aan koue winde van die Atlantiese oseaan, en ook van Elgin in die Overberg. Die eindresultaat is ’n pragtige, vruggedrewe palet.

Probeer gerus die wyn met ’n vars slaai of Thai-kerrie.
Delaire Graff Swartland Reserve Chenin Blanc 2014
R150, delairegraff.co.za
Ten spyte van moeilike groei-omstandighede in die wingerde daardie jaar het Delaire Graff ’n lieflike wyn uitgebring. Die 100% Chenin Blanc is ryk en romerig maar met ’n mineraliteit en suur vir balans.

Die wyn is vir 10 maande in Franse eikehout verouder en die resultaat is ’n ligte goue kleur en geure van tropiese vrugte, heuning en neute. Jy sal verseker nog ’n slukkie wil vat.

Die plaas verkoop reeds 2015-weergawe wat selfs beter behoort te wees ná ’n baie goeie oesjaar.
Stellenbosch Hills 1707 Reserve White 2014
R100, stellenbosch-hills.co.za

Ek was behoorlik oorgewen deur hierdie wyn. Dit bestaan uit 70% Chardonnay, 20% Semillon en 10% Viognier. Elke komponent is vir 10 maande onafhanklik verouder in Franse eikehout en toe saamgemeng voor dit gebottel is.

Die resultaat is ’n vol palet met perskes en appelkose, heuning en sitrus. Ek sal dit graag drink met sushi, kerrie of hoender.
Black Elephant Vintners The Fox & Flamingo Rosé 2015
R89, shop.bevintners.co.za

Toe die kelner hierdie rooi Rosé in my glas skink by ’n middagete in Franschhoek het ek effens my neus opgetrek in afwagtig van ’n soet, aarbei-situasie. Ek was aangenaam verras. Die wyn is geensins soet nie. Inteendeel, dit smaak meer soos ’n rooiwyn wat yskoud bedien moet word.

Jy kry geure van bloedlemoen, bessies en mango saam met tabak en leer. As jy gewoonlik rooiwyn drink is hierdie ’n lekker alternatief vir ’n warm dag.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2019. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?