Geselsies met Famke Koene van Famke juwele

Geselsies met Famke Koene van Famke juwele

As jy al ooit rondgewandel het by die Design Indaba in Kaapstad of een van die Kamers-uitstallings, het jy waarskynlik jouself al vergaap aan die wonderlike juwele wat ons plaaslike ontwerpers skep – klein kunswerke as ’t ware.

Een naam wat veral uitstaan is Famke deur die Kaapste ontwerper Famke Koene. Koene kry graag inspirasie van geometriese vorms en gebruik silwer en brons om juwele te maak wat eenvoudig, tog sterk en opvallend is.

Liezel Malherbe van 9Lives.co.za het met Famke Koene gesels oor haar kreatiewe proses en hoe sy voel oor die plaaslike modebedryf.

Vertel my bietjie meer oor jou kreatiewe proses wanneer jy nuwe juwele ontwerp. Vind jy inspirasie in die wêreld om jou, of word jy eerder gelei deur die materiaal waarmee jy werk?

Ek word beïnvloed deur alles om my, veral strukture met sterk lyne en patrone. Veral geboue! Idees loop inmekaar in wanneer ek by my werkstafel is. Ek sal besig wees met een stuk en dan sal die oorblywende materiaal vir my interessant begin lyk – en so skep ek soms ’n nuwe ontwerp.

Ek vind jou stukke vroulik en delikaat, en tog sterk. Het jy ’n spesifieke vrou ingedagte wanneer jy ontwerp? Of skep jy eenvoudig volgens jou persoonlike smaak?

Om eerlik te wees skep ek meer na my smaak. Ek glo dat ’n mens se handelsmerk werklik jouself moet weerspieël, en hoe eerliker jy is teenoor jouself, hoe meer sal die wêreld in jou glo.

Jy is nou al ’n ruk lank in die modebedryf. Dink jy dit is belangrik om modegiere te volg? Of om eerder tydlose items te koop wat jouself uitdruk?

Ek was nog nooit baie goed daarin om die nuutste giere te volg nie, dit voel altyd na soveel moeite (ek dink baie mense sal my verkwalik omdat ek dit sê!). Wanneer ek ’n reeks ontwerp, sal giere my seker tot ’n mate beïnvloed, maar ek glo eerder daarin om items te ontwerp wat lewenslank stylvol sal bly, en nooit “uit die mode” sal gaan nie.

Wat is jou gevoel oor die plaaslike modebedryf? Dink jy ons ontwerpers maak klere wat goed genoeg is om met internasionale produkte te kompeteer? En kry die bedryf genoeg ondersteuning van die plaaslike mark?

Ek dink die plaaslike bedryf in Suid-Afrika is besig om te floreer! Ons ontwerpers is besig om werklik opwindende reekse te skep in mode, tekstiel, meubels, huisware ens. Dis wonderlik!

As jy ’n gunsteling item in jou reeks moet kies, watter een sou dit wees?
Die XL web hangertjie!

Volg Famke:

Webwerf: famke.co.za
Twitter: @famkek
Facebook: Famke-Jewellery-Design
Instagram: @famkek

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?