Leandie du Randt Bosch kan haar man staan

Leandie du Randt Bosch wat reeds verskeie groot filmrolle in Strikdas, Hollywood in My Huis, Die Windpomp, Die Storie van Susanna van Biljon, Mooirivier en Klein Karoo agter haar naam kan skryf, het verlede jaar ook haar sepie-debuut in Binnelanders gemaak. Boonop het sy ook die hoofrol in Deon Meyer se nuwe aksieriller, Jagveld, wat vroeër vanjaar die silwerdoek getref het, vertolk.

Leandie is vandeesweek ons aktrise van die week en ons het gaan aanklop om met haar te gesels!

Jy vertolk die rol van ’n laerskool onderwyseres, Emma le Roux in Deon Meyer se nuwe aksieriller, Jagveld. Watter ooreenkomste sowel as verskille is daar tussen julle twee?

Ek en Emma is in soveel opsigte dieselfde, want ons albei haat geweld en ons albei is baie sterk vroue wat ons ma’s reeds op ’n vroeë ouderdom aan die dood moes afstaan. Ek en Emma verskil egter ten opsigte van ons sosiale uitkyk op die lewe, want sy is baie privaat en het nie regtig baie vriendinne nie terwyl ek wel ’n baie betroubare groep vriendinne in my lewe het.

Die afgelope ruk het kykers jou as ’n romantiese heldin in verskeie romantiese komedies soos Mooirivier, Strikdas en Hollywood In My Huis leer ken, maar in Jagveld maak jy die drastiese sprong na ’n onverskrokke aksieheldin. Hoe het jy vir hierdie rol voorberei?

Ek is so ongelooflik dankbaar vir hierdie sprong en het myself voorberei deur na ’n soortgelyke aksie-riller, Kill Bill te kyk. Ek het my ongelooflike afrigter en waaghalsdubbel, Frances Fuchs se gevegsklasse bygewoon en het ook as deel van my voorbereiding vir Jagveld Kayla Itsines se oefenprogram vir vier maande gevolg.

Wat was vir jou ’n hoogtepunt tydens die verfilmingsproses van Jagveld verlede jaar?
Die dorre Karoo – dit was ’n hoogtepunt om in die wêreld te kon bly waar ons elke dag geskiet het. Dit was só ’n groot voorreg om elke aand huis toe te kon gaan in die wete dat my man ook daar is en ons het soms saam met almal ’n vleisie gebraai om die dag se harde werk te vier. Ek was mal daaroor om dié film te kon maak – dit was harde werk, maar tog sulke lekker werk!

Jou man, Bouwer Bosch vertolk die rol van Jay, een van die psigopaat, Bosman se handlangers. Hoe het jy dit ondervind om saam met hom aan Jagveld te kon verfilm?

Dit was vir my ’n baie groot voorreg om hom naby my te kon hê, nie net vir ondersteuning nie, maar ook om hierdie ongelooflike ervaring in my lewe met hom te kon deel. Hy het my regtig baie ondersteun ten spyte van die feit dat ons nie eintlik so baie tonele saam gehad het nie.
Jou karakter, Emma word voorgestel as ’n vreeslose jong meisie wat haar man kan staan en sodoende geslagstereotipes kan afbreek.

Wat is die heel belangrikste boodskap wat jy graag met hierdie film aan vroulike kykers wil oordra?
Vroue sal moet leer om nie net vir die mans wat hul aanrand te sê dat dit onaanvaarbaar is nie, maar hulle sal ook moet probeer om terug te veg indien hul lewens in gevaar is. Hopelik sal die mans ook hierdeur kan sien hóé walglik dit is as hulle vroue gewelddadig hanteer. My droom is dat Jagveld alle vroue sal bemagtig om in die toekoms teen mans vir hulleself te kan opstaan.

Jy het jou debuut op die kassie as Mieke in die kykNET dramareeks, Getroud Met Rugby gemaak en jy het ook verlede jaar vir die eerste keer in die gewilde sepie, Binnelanders as Ivanka Gouws verskyn. Verkies jy televisie of film en waarom?

Elke medium is ongelooflik op sy eie manier en albei het hul unieke voordele. Ek verkies om te kan werk en om verskeidenheid te kan hê, maar ek hou van verandering en weet dus nie of ek vir baie lank dieselfde karakter sal kan speel nie. Dit was nog altyd net só ’n ongelooflike groot voorreg vir my om te kan doen waarvoor ek lief is.

Wat het jou laat besluit om ’n loopbaan van jou liefde vir toneelspel te maak?

Dit het my gekies! Ek het van kleins af geweet dat dit is wat ek met my lewe wil doen en ek het gesien hoe die Here die byna ondenkbare kan bewerkstellig as jy Hom net ’n halwe kans gee.
Het jy enige ander verskuilde talente waarvan jou aanhangers dalk nie bewus is nie?
Ek sal somtyds sing en kan ook so hier en daar ’n paar akkoorde op die kitaar tokkel.

Waaraan werk jy op die oomblik?
Ek is tans met die verfilming van ’n nuwe Afrikaanse film, Vuil Wasgoed, besig waarin ek die rol van Alecia vertolk. Hierdie “buddy” aksie-komedie begin Desember vanjaar in teaters landwyd draai. Verder hou die motiveringspraatjies vir my selfhelpboek, Gemaklik In Jou Eie Lyf, my ook weer druk besig met verskeie optredes in Johannesburg, Durbanville, George en Port-Elizabeth.

Watter strokiesprent karakter sou jy graag wou wees en waarom?
Elsa in Frozen, want sy moes eers leer om haarself lief te hê en te aanvaar voordat sy opgehou het om haar spesiale kragte vir slegte doeleindes te gebruik. Haar storie pas dus perfek aan by die boodskap van my motiveringspraatjie waarin ek vir meisies leer hoe belangrik dit vir hulle is om ten spyte van al hulle foute en/of tekortkominge altyd net hulself te wees.

Berig verskaf deur Sterre. Vir nog opwindende nuus en artikels, besoek Sterre se webtuiste by sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?