VIA en Landbouweekblad snoer kragte saam met nuwe TV-program

Kom reis saam na van Suid-Afrika se beste boere saam met Landbouweekblad, Suid-Afrika se grootste en invloedrykste landboutydskrif. Dié boere bepaal die agenda en dink nuut en só los hulle ook van die land se grootste probleme op. Hulle is groot boere, klein boere, manlike boere, vroulike boere, wit, swart en bruin. En dan is daar natuurlik ook die groot masjiene, pragtige diere en indrukwekkende boorde en landerye!

VIA se nuwe program, Landbouweekliks, gaan nie net lig werp op die tegniese aspekte van landbou nie, maar ook op die boere se visie en lewenspad. Kenners gaan ook elke week raad en inligting oor spesifieke onderwerpe deel, en Landbouweekblad se redakteur en ’n paar joernaliste gaan ook te sien wees. Dié program is ’n vennootskap tussen VIA en Landbouweekblad, Suid-Afrika se grootste landboutydskrif. Landbouweekliks begin op Dinsdag 9 Januarie 2018 om 19:30 eksklusief op die Afrikaanse leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147).

Die geliefde radio- en TV-persoonlikheid Ivor Price reis in elke episode na plase regoor Suid-Afrika. Hy ontmoet besonderse boere met hope entoesiasme vir die landboubedryf, sowel as die span mense wat saamwerk om die boerdery vorentoe te neem. Soos die Laeveldse boer Milaan Thalwitzer in die eerste episode sê: “Jy kan nie ’n besigheid bestuur en bedryf as jy nie goeie werkers het nie. Daarom gaan ons uit ons pad om vir ons werkers soveel voordele as moontlik te bied.”

“Ons boere is van die beste bestuurders in ons ekonomie,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad. “Nie net moet hulle ’n magdom veranderlikes, soos die weer en die wisselkoers (wat grootliks buite hulle beheer is) suksesvol bestuur nie, maar hulle moet ook met vernuwende oplossings vorendag kom vir byna onoorkombare probleme. Een daarvan is dat hulle insetkoste gewoonlik vinniger styg as die prys van die produkte wat hulle produseer. Hulle moet die heeltyd nuut dink, nie net met hulle masjiene nie, maar ook in hulle koppe, om meer met minder te kan doen. Die resultaat is besonderse mense met ’n besonderse perspektief op die lewe wat gewone kykers sal verras en verstom. Beleef boere soos jy hulle nog nooit vantevore beleef het nie.”

Ivor besoek verskeie boerderye – van winter- en somergraan, vee, vrugte en wyn tot suksesvolle bemagtigingsprojekte. In Landbouweekliks rol Ivor ook sy moue op vir ’n bietjie handearbeid op die plaas. Dit sorg vir lekker humor én bied insig tot die daaglikse plaaslewe. Te midde van die harde werk, sweet en saamkuier, leer ons hoe belangrik die landboubedryf werklik in Suid-Afrika is. “VIA se leefstyl-inhoud bied die ideale platform vir ’n moderne landbouprogram wat klem lê op Suid-Afrikaners wat voluit boer,” sê Izelle Venter, VIA se kanaalhoof. “Die program sal nie net die landbougemeenskap aan die hart gryp nie, maar ook gewone verbruikers wat graag wil verstaan waar hulle kos vandaan kom.”

Nuwe episodes van Landbouweekliks word elke Dinsdag om 19:30 uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 17:30. Die twee seisoene van die program bestaan uit 26 episodes van ’n halfuur elk. Die program is ook op DStv Now beskikbaar.

Bly op die hoogte

  • VIA se programroosters word in Afrikaanse koerante, Huisgenoot en tvplus gepubliseer en is ook op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Instagram om op hoogte te bly van programnuus.
  • Besoek Landbou.com vir nog inligting oor die boere en plase.
  • Vir nog besonderhede oor VIA se programme of aanbieders, stuur e-pos aan Saskia Hill by saskia.hill@media24.com of besoek viatv.co.za.

 

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?