Veiligheidslessenaar kry vet tjek by VKB

Die VKB/VL-veiligheidslessenaar het ’n bedrag van R420 000 van VKB ontvang vir die ondersteuning van landelike veiligheid in die Vrystaat. Dié geld is op VKB se 2017 Dryf vir Veiligheid-gholfdag op Clarens ingesamel. Die maatskappy bied al vir die afgelope vier jaar die gholfdag aan ter ondersteuning van aksies vir landelike veiligheid.

Die geld stel Vrystaat Landbou (VL) en die lessenaar in staat om landbouers met hul eie veiligheid te help, asook om samewerking tussen landbouers en die Polisie te versterk om misdaad in landelike gebiede te bekamp. “Sonder hierdie geld sou die VKB/VL-veiligheidslessenaar nie in staat wees om hul rol ten volle te vervul nie. Ons is baie dankbaar vir VKB en al die deelnemende spanne se ondersteuning,” sê Henk Vermeulen, VL se uitvoerende hoof.

Sowat twee en ’n half jaar ná die vestiging van die VKB/VL-veiligheidslessenaar, word die lessenaar se rol in landelike veiligheid deur verskeie rolspelers in die bedryf as onmisbaar beskryf. Dit word beskryf as ’n bron wat waardevolle inligting verskaf wat die plaaslike en nasionale gemeenskap op hoogte hou van gebeure in die provinsie en die stand van misdaad in die landelike gebiede, wat op hul beurt ’n reuse bydrae tot Suid-Afrika se voedselsekerheid lewer.

Veiligheidsberade en opleidingsessies oor grondbesettings, veediefstal, dienslewering deur die SAPD en ander veiligheidskwessies word die afgelope twee jaar saam met die Polisie aangebied as deel van pogings om landbouers oor misdaad in te lig. Die sessies fokus op die bou van verhoudings binne plaaslike veiligheidsnetwerke sodat landbouers weet wat hulle te doen staan in ’n krisis en wie om te kontak.

Veiligheidswenke vir die plaas, plaashuise en voertuie word op ’n gereelde grondslag gedeel. Die lessenaar vergader gereeld met plaaslike en provinsiale veiligheidstrukture. Tweemaandelikse vergaderings vind met die topbestuur van die SAPD plaas. Vermeulen sê: “Ons hoop dat die lessenaar se pogings en diens ’n daadwerlike verskil sal maak in die misdaadsituasie in die Vrystaat se boerderygemeenskappe.”
Bron: ProAgri

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?