SA ‘kan in 2017 ’n oorskot aan mielies hê’

Suid-Afrika kan vanjaar ’n oorskot mielies hê

“Wat ek uit ons peilings en gesprekke met boere vasgestel het, is dat ons sowat 2,4 miljoen hektaar geplant het,” sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

Dit is sowat 18% meer as in 2016.

Op die vraag of ’n oorskot verwag kan word, sê hy “as ons soveel hektaar geplant het en ek kyk na die weervoorspelling vir die volgende maand of twee, is daar ’n groot kans dat ons meer as genoeg vir eie gebruik sal hê”.

’n Oorskot sal help om voedselprysinflasie in Suid-Afrika te demp.

Die prys van witmielies vir menslike gebruik het in 2015 verdubbel, maar in 2016 met 24% gedaal.

’n Oorskot kan ook implikasies vir voedselsekuriteit in die streek hê met lande soos Malawi wat dalk steeds sal moet invoer.

Malawi, Zambië en Zimbabwe sukkel met ’n kommandowurmplaag onder mielies en ander gewasse.

Suid-Afrika het verlede jaar 7,5 miljoen ton witmielies geoes. Die was 25% laer as die 9,95 miljoen ton in 2015 weens die droogte wat deur ’n El Niño-verskynsel aangevuur is. Plaaslike verbruik is ongeveer 10,5 miljoen ton.

Graan SA se skatting oor hoeveel geplant is, is minder as die 2,62 miljoen hektaar wat die regering se oesskattingskomitee in November geskat het boere gaan plant.

Die komitee maak op 26 Januarie sy eerste skatting vir mielies wat wel geplant is, bekend.

De Villiers sê die droogte het sommige kommersiële boere uit die bedryf gestoot en hulle moes noodgedwonge hul plase verkoop.

“As ek na die mark kyk, is daar ’n hele paar plase in die mark, veral in Noordwes. Ek neem aan met die getal plase wat op die mark is, is daar mense wat hul plase verloor het,” sê hy.

Hy sê die vraag na geelmielies, wat in Suid-Afrika hoofsaaklik vir veevoer gebruik word, sal op die langer termyn toeneem namate proteïengebruik stelselmatig styg. Dit is ’n tendens in ander ontluikende ekonomieë met ’n groeiende middelklas.

Die aanvraag na witmielies, die hoofbron van kalorieë vir Suid-Afrika se hoofsaaklik swart werkersklas, sal afplat.

“Witmielies is stagnant. Die mense beweeg weg daarvan as hulle ’n stukkie hoender of iets soortgelyk kan bekostig,” sê De Villiers.

“Die toename in geelmielies sal definitief hoër as die bevolkingsaanwas wees,” sê hy.

Bron: netwerk24 (http://www.netwerk24.com/Sake/Landbou/sa-kan-in-2017-n-oorskot-aan-mielies-he-20170112

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?