Pryse van stapelvoedsel kan vanjaar begin daal

Pryse van stapelvoedsel soos mieliemeel kan dalk teen die derde kwartaal van vanjaar begin daal. Dít is danksy die goeie reën wat sedert Oktober 2016 geval het en mielieproduksie laat styg het, sê Hamlet Hlomendlini, senior ekonoom van Agri SA.

 

Hy het sy stem by ander ekonome gevoeg wat ná die bekendmaking Woensdag van die jongste inflasiesyfers gesê het dat die koersverhoging tot ’n tienmaande-hoogtepunt van 6,8% dalk die boonste draaipunt van die stygsiklus kan wees. Die uitwerking van die ernstige droogte van 2016 het voedselinflasie die afgelope maande die hoogte laat inskiet en die bruto binnelandse produk (BBP) laat daal. “Ons voorsien dat pryse in 2017 meer gematig sal raak soos wat die nuwe seisoen se produksie-vooruitsigte verbeter,” sê Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB.

 

Wisselkoers

 

Hy waarsku egter dat die rand-dollar-wisselkoers noukeurig dopgehou moet word aangesien ’n swakker rand dalk die voordeel van laer graanpryse kan kanselleer. Die prys van die meeste graanhulpbronne word op invoerpariteit (die prys waarteen ons die graansoort kan invoer) gegrond. “Hoewel die rand tans op van sy beste vlakke teen die dollar is, bestaan die risiko van toenemende volatiliteit op die langer termyn weens lae plaaslike groeivooruitsigte en rentekoersverhogings in Amerika.”

 

Die goeie reën het gehelp dat daar vanjaar ’n aansienlik groter mielie-oes as verlede jaar se skamele 7,5 miljoen ton verwag word. Die Nasionale Oesskattingskomitee sal op 26 Januarie sy nuutste oesskatting bekend maak en die verwagting is dat die opbrengs sowat 12 miljoen ton sal wees. Daar is egter ontleders wat glo die oes kan selfs groter wees en dat daar meer witmielies geplant is as wat algemeen verwag is.

 

Anthony Clark, ontleder van Vunani Sekuriteite, skryf in sy jongste nuusbrief dat hy onlangs met die landbougroep Senwes oor aanplantings gepraat het, en dat dié maatskappy meen die oes kan nader aan 13 miljoen ton wees.Indien goeie reën in Februarie val, kan dit selfs so hoog as 14 miljoen ton wees. “Dít is weer baie goeie nuus vir pluimveemaatskappye wat weens hoë voerkoste tans swaar trek en dit is ook goeie nuus vir ’n meulenaar soos Pioneer Foods,” sê Clark. Hy sê die positiewe prysverskil van R200/ton tussen wit- en geelmielies kan beteken dat heelwat meer witmielies geplant is om voordeel uit die prys te trek.

 

“Daar is sprake dat tot 50% meer witmielies as verlede jaar geplant is, wat die prys later vanjaar kan laat daal.” Die voordeel van ’n laer mielieprys kan primêre voedselvervaardigers, soos Pioneer en Tiger Brands, teen die tweede helfte van vanjaar help herstel van die hoë insetkoste wat hulle tot nou toe moes dra.” Maar wat is die kanse vir goeie reën in die najaar?

 

Reënvalvooruitsigte

 

Reënvalvooruitsigte lyk steeds goed vir ten minste Februarie oor die grootste deel van die somerreënvalgebied, sê Johan van den Berg, bestuurder van gespesialiseerde oesversekering by Santam. “Neutrale tot swak La Niña-toestande heers steeds en see-oppervlaktemperature in die Indiese Oseaan is ook neutraal. “Dit lyk asof die kanse goed is dat die droogte oor groot gedeeltes gebreek kan wees voor die winter.”

 

Bron: Netwerk24 (http://www.netwerk24.com/Sake/Landbou/pryse-van-stapelvoedsel-kan-vanjaar-begin-daal-20170119)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?