Platform vir beheer van sitrus-swartvlek bekend gestel

Sitrus-swartvlek en die bedreiging wat dit vir Suid-Afrikaanse sitrusuitvoere kan inhou, was in 2016 gereeld in die nuus aangesien verskeie onderhandelings met invoerlande moes plaasvind oor beperkings op handel.

Wetenskaplike dispuut

Sitrus-swartvlek (SSV) is ’n swamsiekte wat kosmetiese vlekke op die skil van ryp sitrusvrugte maak. “Dit is egter ’n kwarantynsiekte in sekere van die lande wat Suid-Afrikaanse vrugte ontvang. Die Europese Unie het byvoorbeeld ’n beleid van geen-verdraagsaamheid vir SSV, wat beteken dat ’n hele vrag afgekeur sal word indien ’n enkele swartvlekletsel op ’n vrug bespeur word,” sê prof Paul Fourie, navorser by Citrus Research International (CRI) en buitengewone professor in plantpatologie by die Universiteit van Stellenbosch.

Dié regulasie is die gevolg van vrees dat die siekte deur ingevoerde vrugte na Europese boorde kan versprei. Prof Fourie verduidelik egter dat navorsers in Suid-Afrika en ander lande waar SSV voorkom, die regulasie bevraagteken. “Verskeie redes bestaan hiervoor, soos dat die Europese klimaat ongunstig is vir die siekte. SSV navorsers stem verder saam dat besmette uitvoervrugte nie die siekte kan versprei nie, onder andere omdat die spoorvorming en -vrystelling van pakhuis-behandelde vrugte uiters swak is.”

Ondanks die dispuut oor die wetenskaplike grondigheid van ’n verbod, is die regulasies steeds in plek en daarom bly SSV ’n uiters belangrike siekte om aan aandag te skenk en te beheer.

Volgens prof Fourie is goeie boordsanitasie noodsaaklik vir die bestuur van SSV. “Dit sluit in die verwydering van blaarafval, die wegsnoei van ou hout en die verwydering van buiteseisoen-vrugte.”

Doeltreffende spuitprogramme is ontwikkel om die vrugte in die vatbare stadium, vier tot vyf maande ná vrugset, te beskerm. “Hoë-volume toringspuite word algemeen gebruik om die risiko van swak bedekking te verminder en die beste beskerming te verseker. Wanneer dit nodig is om te spuit, watter produkte om te gebruik en wanneer die beste tyd van die dag vir bespuiting is, is van die belangrike bestuursbesluite,” sê prof Fourie.

Meer kennis, beter beheer

Dit is juis hier waar ’n nuwe webtuiste, CRI-PhytRisk, ’n belangrike rol kan speel. Mareli Kellerman, navorser en PhD-student verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch en CRI, sê die doel van dié nuwe webtuiste en vroeë waarskuwingstelsel is om boere met inligting by te staan oor die SSV-risiko, weervoorspellings, geskikte weerstoestande vir die spuit van swamdoders en so meer.

“Die boer kan op die platform die daaglikse weervoorspelling vir sy gebied sien, asook die huidige SSV-risiko en spuittoestande. Onthou, infeksie van die SSV-swam kan slegs in warm en nat toestande plaasvind. Dit is dus dan wanneer beskerming met swamdoders belangrik is, wat beteken boere moet ingeligte besluite oor die tydsberekening van bespuiting neem.”

Verder kan boere ook registreer om waarskuwings en ander relevante inligting per epos via CRI-PhytRisk te ontvang. “Geregistreerde gebruikers het ook toegang tot historiese data oor die SSV-risiko en spuittoestande. Die inligting is vir uitvoerders baie handig as daar navrae is oor uitvoer na SSV-vrye lande.” (Om te registreer, stuur ’n epos na phytrisk@cri.co.za)

Toekomsplanne

CRI-PhytRisk is ’n navorsingsinisiatief wat deur Research for Citrus Exports (RCE) befonds is. RCE is ’n privaat-publieke vennootskap tussen die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf deur CRI.

Kellerman herinner gebruikers dat die platform nog in ontwikkelingsfase is. “Die toetsweergawe is lewendig en ons vra gebruikers om dit te besoek en terugvoer te gee. Die wetenskaplike modelle waarop die webtuiste funksioneer, sal hierdie jaar in samewerking met ander internasionale navorsers se modelle getoets word.”

Wat toekomsplanne betref, fokus die span op die ontwikkeling van ’n slimfoon-toepassing, asook verdere ontwikkeling wat boere in staat sal stel om hul eie weerstasies se data in die platform te gebruik, asook om SSV-swamdoder-spuitdata op die stelsel in te voer.

“Die invoer van dié data sal nog ’n nuwe dimensie moontlik maak, aangesien beheerprogram-inligting tesame met SSV-risikovoorspellings dan met mekaar vergelyk kan word om ingeligte SSV-risiko-analise moontlik te maak.”

Volgens beplanning sal die inligting ook op die PhytClean-platform geplaas kan word. Dié platform word deur Fruit SA en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye ontwikkel met die doel om fitosanitêre vereistes se data maklik te berg en toeganklik te maak.

Risikobepaling

Soos genoem, is ’n baie belangrike doel van die CRI-PhytRisk-platform om SSV-risikovoorspellings te maak. CRI-PhytRisk bereken die SSV-besmettingsrisiko volgens drie-uurlikse inligting oor weerstoestande. Die SSV-swam het twee tipes spore waardeur besmetting kan plaasvind, piknidiospore en askospore, elk met unieke toestande vir rypwording, vrystelling en besmetting.

Volgens Kellerman word wetenskaplike modelle gebruik om hierdie fases vir elke spoor te bepaal en aan te dui watter tye van die dag gunstig is vir besmetting. Dit word deur middel van kleure op die platform aangedui. “Groen dui op ’n voorspelling van geen besmetting, oranje as medium risiko vir besmetting met een van die tipes spore en rooi as ’n hoë risiko vir besmetting met albei tipes spore.”

Prof Fourie moedig die bedryf aan om alles in sy vermoë te doen om SSV so doeltreffend as moontlik te bestuur en die risiko vir SSV-onderskepping met uitvoere na die Europese Unie so laag as moontlik te hou deur die aanbevole fitosanitêre maatreëls streng te volg. “Om by te dra tot sulke bestuur, kan CRI-PhytRisk gebruik word om SSV beter te verstaan en om swamdoder-spuitprogramme beter te beplan op grond van inligting oor heersende weerstoestande en die invloed daarvan op SSV-epidemiologie.”

Bron: AgriOrbit (http://agriorbit.com/web-platform-vir-beter-beheer-van-sitrus-swartvlek-bekendgestel/)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?