Plantstropery is probleem in Wes-Kaap

Sewe Rastafariërs is vasgetrek met duisende rande se wildeknoffelbolle, poeierkwasbolle, jeukbolle en kooigoed: Dié stropery is ʼn groot probleem in die Wes-Kaap.
Die stroop van en handel met inheemse en bedreigde plantegroei is regoor die Wes-Kaap ’n probleem.

Volgens mnr. Justin Lawrence, verantwoordelik vir openbare betrekkinge by Cape Nature, is die probleme in Durbanville, waaroor Landbouweekblad van 19 Mei 2017, berig, nie nuut nie.

“Dit gebeur oral in die provinsie, maar dit is nie altyd maklik om die verdagtes vas te trek nie.”

Sewe Rastafariërs is vroeg in Mei in die Durbanville-gebied vasgetrek met duisende rande se wildeknoffelbolle (Tulbaghia), poeierkwasbolle (Haemanthus coccineus), jeukbolle (Drimia elata) en vyf bosse kooigoed.

“Dit was ’n groot hoeveelheid plante en dit het beslis ’n impak op die plaaslike voortbestaan van ’n spesie.”

Betreding snags
Boere in die omgewing is raadop omdat Rastafariërs snags hul grond sonder toestemming betree om die bedreigde plante te steel. Hulle maak glo vuur en rook in die veld en koppies, wat ’n brandgevaar inhou.

Volgens mnr. Villiers Loubser van Faircape is die stropers besig om bedreigde fynbos-spesies heeltemal uit te roei. Lawrence sê hoewel daar nog nie spesies die gevaar loop om uitgewis te word weens stropery nie, bly dit ’n probleem.

“As dit egter te gereeld in dieselfde gebied gebeur, kan dit problematies wees. Die uithaal van spesies beskadig ook ander plante.”

Vir medisinale doeleindes
Hoewel Rastafariërs, wat die kruie en plante hoofsaaklik vir medisinale doeleindes gebruik, dikwels die blaam kry vir die stropery, sê Lawrence hulle is nie die enigstes wat hulle daaraan skuldig maak nie. Mense stroop ook fynbos, seldsame spesies en bedreigde plante vir wetenskaplike navorsing.

“Dis moeilik om stropers op heterdaad of met die plante in hul besit te betrap. Die meeste mense wat in hegtenis geneem word is danksy die publiek wat die owerhede inlig oor verdagte gedrag of mense.”

Lawrence het boere aangemoedig om pro-aktief te wees om te help om biodiversiteitsmisdaad te bekamp.

“Wees bewus van die wetgewing en verstaan hoe sulke optrede die provinsie se biodiversiteit beïnvloed. Ons moedig ook die publiek aan om onwettige aktiwiteite aan te meld.”

Inligting kan ook aan CapeNature se biodiversiteitsmisdaad-eenheid deurgegee word. Skakel CapeNature by 021 483 0910.

Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?