Pekelwater: pluimveebedryf kou naels

Die beleërde Suid-Afrikaanse pluimveebedryf sê hy sal eers einde Februarie weet watter uitwerking nuwe regulasies wat die hoeveelheid pekelwater in bevrore hoenderporsies beperk, op die bedryf het. Dié regulasies, wat pekelwater in die porsies tot 15% van die totale gewig beperk, geld sedert 22 Oktober 2016.

Die hooggeregshof in Pretoria het in September beslis hoenderprodusente het genoeg tyd gehad om resepte te verander om aan die regulasies te voldoen. Die regulasies is reeds in April in die Staatskoerant gepubliseer. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa), het gesê Sapa sal nie verdere hofgedinge oor die kwessie aanhangig maak nie. Hy sê hoewel die regulasies van Oktober af geld, kon porsies met ’n hoër pekelwaterinhoud wat voor dié datum geproduseer is, nog verkoop word. Dié voorraad was waarskynlik tot Desember in die stelsel.

Desember is tradisioneel ’n goeie maand vir hoenderverkope. Daarenteen is Januarie gewoonlik ’n slegte maand omdat verbruikers ná die Kerstydbesteding swaarkry. Lovell sê einde Februarie sal die bedryf dus ’n beter idee hê van die uitwerking van die nuwe regulasies op ’n goeie én ’n slegte maand.

Intussen “wag en hoop” die bedryf, wat ook druk ervaar weens groot volumes ingevoerde hoender wat plaaslike pryse verwring, op ’n aanbeveling deur die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) oor ’n invoertarief op hoenderstukke wat Suid-Afrika uit Europa binnekom.

Belanghebbendes se kommentaar daarop moes Itac in die afgelope week bereik het. ’n Besluit kan eers oor ’n paar maande verwag word, sê Lovell. Itac se ondersoek na of die invoertarief verder moet styg, volg nadat die regering verlede maand ’n beskermingstarief van 13,9% op bevrore hoenderstukke uit die Europese Unie (EU) ingestel het. Die tarief geld tot 3 Julie.

Die probleem vir Suid-Afrikaanse hoenderprodusente is dat die meeste ingevoerde stukke uit die EU Suid-Afrika tariefvry binnekom ingevolge die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EVO) tussen die EU en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), het Netwerk24 vroeër berig.
Plaaslik kla hoenderprodusente al geruime tyd dat EU-lande die stukke wat minder gesog is in hul markte, in Suid-Afrika stort.

Plaaslike produsente het effens verligting gekry danksy ’n invoerverbod op pluimvee uit sewe EU-lande weens vrese oor voëlgriep, maar Lovell sê die verligting is net tydelik. Boonop kan die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf nie sy sukses op ’n ander se teëspoed bou nie.

Die vakverbond Cosatu eis intussen ’n dringende vergadering tussen georganiseerde landbou, die arbeidsektor en die regering om ’n omvattender oplossing te bedink om die volhoubaarheid van die land se hoenderbedryf te verseker. Sizwe Pamla, nasionale woordvoerder, sê hulle is omgekrap omdat die tarief van 13,9% die enigste plan is waarmee die regering nog vorendag gekom het.
Dit is egter nie genoeg nie as in ag geneem word dat daar op lang termyn tot 50 000 poste verlore kan gaan indien die land se hoenderbedryf tot niet gaan, sê hy.

Cosatu het die vrese herhaal dat indien die regering nie daadwerklik iets doen om die bedryf te beskerm nie, dit dieselfde paadjie as die land se tekstielbedryf kan loop wat sedert die 1990’s byna doodgebloei het. Cosatu se kommentaar volg nadat Rainbow Chickens Limited (RCL) aangedui het hy sal meer as 1 300 plaaswerkers moet afdank en verskeie plase in Hammarsdale in KwaZulu-Natal moet sluit weens ongunstige toestande in die bedryf.

Pamla sê in die lig van Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers van 27,1% in die derde kwartaal van verlede jaar, kan die land kwalik enige werkverliese bekostig. Die regering moet ook alternatiewe uitvoermarkte vind vir plaaslik geproduseerde hoenderprodukte, boere subsidieer en help met laer tariewe vir byvoorbeeld elektrisiteit, asook met toerusting, saad en kunsmis, stel Cosatu voor. Nog ’n plan is om plaaswerkers en werknemers in die voedselbedryf aandele in plase en voedselmaatskappye te gee, sê die vakverbond.

Bron: Netwerk24 (http://www.netwerk24.com/Sake/Landbou/pekelwater-pluimveebedryf-kou-naels-20170113)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?