Ondersteuning ná weghol-brande

Ondersteuning ná weghol-brande

In die lig van reeds uitdagende omstandighede word kontantvloei en die voedselketting verder geknou deur verskeie wegholbrande wat groot dele van die land die afgelope tyd geteister het.

Vir etlike maande is nuusplatforms oorheers deur tonele waar dosyne wegholbrande in die Oos-, Suid-, Wes- en Noord-Kaap gewoed het. Lees oor die impak hiervan, asook aksies om produsente te ondersteun.

Enkele statistieke

8 Des: Verskeie brande word aangemeld: Pinehaven, Knysna, Plettenbergbaai, Baviaanskloof en Port Elizabeth.

16 Des: Die Mosselbaai-omgewing word van 16 Desember tot in die nuwe jaar deur 79 veldbrande geteister – ’n geskatte 48 000ha is vernietig.

20 Des: ’n Wegholbrand ontstaan langs die N2 buite Riversdal.

23-24 Des: ’n Veertienjarige leerling van Boys High, Paarl, is in die hospitaal oorlede nadat hy van ’n bakkie afgeval het wat in die veld naby Caledon besig was om die brand te help beheer. ’n Brand het terselfdertyd ook naby Bredasdorp gewoed.

28 Des: ’n Verwoestende brand, aangejaag deur ’n sterk wind, vernietig meer as 50 000ha in die dorre Hantam munisipaliteits-distrik (Calvinia en Middelpos-omgewing). Sewe plase brand af, en ander gedeeltelik. Dit is die gevolg van ’n kortsluiting by ’n Eskom-installasie waar ’n tegniese beampte besig was om ’n elektriese fout na te gaan.

15-19 Januarie: Brande word tussen Riversdal en Stilbaai aangemeld waar 22 000 hektaar en vyf huise afbrand, terwyl vee ook op sommige plekke doodbrand. Die Stilbaai-brand word as ’n “plaaslike ramp” beskryf.

17 Jan: Brande woed in die Kaapse Skiereiland, aan die Weskus, en in die Kaapse Wynland. Die brand by die Paarl, wat buite beheer was, vernietig die hoofgebou op die wynlandgoed Calais.

18 Jan: Brandbestryders in die Kaap bestry al twee maande lank minstens 3 166 brande. Die moontlikheid van brandstigting word ondersoek.

’n Lang herstelperiode lê voor

Die brande laat ’n groot menigte boere moedeloos, veral waar byvoorbeeld weiding of wingerde verwoes is. Dit laat baie van hulle ook nie ’n keuse nie as om hulle vee te verkoop.

Agri Wes-Kaap noem dat die brande ekstra druk op die landbousektor, wat reeds onder ’n droogte gebuk gaan, geplaas het. “Die Stilbaai-brand is ’n plaaslike ramp,” sê Lauren Howard, woordvoerder van Working on Fire, na afloop van dié skok.

Prof Hennie Snyman van die Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde van die Universiteit van die Vrystaat, sê in artikels die impak wat veldbrande in die droër dele van die land op die weiding-ekostelsel het, word dikwels onderskat. “Die probleem is dat die werklike uitwerking daarvan ’n seisoen of twee daarna eers werklik waargeneem word. Wanneer ongeluks- of onbeplande brande wel ’n boer in die droër dele tref, word dikwels slegs van vorige ondervinding gebruik gemaak in die voervloeibeplanning wat vir hom voorlê. Hierdie kennis is meestal nie wetenskaplik gefundeer nie en het geweldige ekologiese probleme tot gevolg.”

Staan ons produsente by

Henk van Wyk, president van Agri Noord-Kaap, vra dat enigeen wat met voer, vervoer of geldelik ’n bydrae wil maak, Agri Noord-Kaap by 053 832 9595 moet kontak.

BKB is ook baie bewus van die geweldige skade wat produsente as gevolg van die onlangse brande in die Calvinia-, Riversdal- en Caledon-distrik gely het. Jakobus le Roux, hoofbestuurder van korporatiewe bemarking en openbare betrekkinge by BKB in Port Elizabeth, dra hul belange sterk op die hart, “Met die welstand van ons kliënte voorop gestel, is dit vir ons aangenaam om aan te kondig dat BKB spesiale pryse vir sekere omheiningsmateriaal beding het. Daar is ook finansiering vir wol- en bokhaarkliënte van BKB beskikbaar.”

Materiaal:

2,24mm-staaldraad V/V 1 650m
2mm-staaldraad V/V 2 100m
Karoo 11-doringdraad V/V 845m
2,24mm-staaldraad L/V 1 650m
1 200 x 90 x 1,8mm-sifdraad L/V 50m
Kontak gerus die volgende BKB-personeellede vir meer besonderhede:

Sonja de Wet, BKB Caledon-handelstak: 028 212 3106.
Nico Smit, BKB Carnarvon-handelstak: 053 382 3071.
Clive Wright, BKB-finansiering: 041 5033 111.
Ander wêrelddele:

Navorsing toon dat klimaatsverandering vir die toename in brande, veral woude, regoor die wêreld verantwoordelik is. Groot wegholbrande in lande soos Siberië en Indonnesië waar dit nie op so ’n groot skaal die norm is nie, is al aangeteken. Verlede jaar het Kalifornië, Spanje en Kanada (Alaska) deurgeloop, asook Portugal en Frankryk.

Veldbrande in die westelike gebied van Amerika het die afgelope dekades toegeneem. Chile was onlangs die slagoffer van wegholbrande, die grootste en mees verwoestende in die land se geskiedenis. Dit het die lewens van ten minste tien mense is geëis, en verskeie klein dorpies is vernietig.

Bron: AgriOrbit (http://agriorbit.com/ondersteuning-na-weghol-brande/)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?