Landbousektor Voorsorgfonds gee gemoedsrus

Die landbou-arbeidsmag speel ’n belangrike rol in die sukses en produktiwiteit van Suid-Afrikaanse landbou. Hoewel landbou-rolspelers dikwels kritiek kry oor die hantering van hul verhoudings met arbeiders, besef Suid-Afrikaanse landbouers beslis die waarde van die arbeidsmag.

Geen twyfel bestaan ook nie dat elke boer of ander landbouwerkgewer die beste vir sy werknemers wil hê. Om “die beste” tegnies ’n realiteit gemaak, is egter dikwels moeiliker gesê as gedaan. Die behoefte bestaan natuurlik om van ’n platform gebruik te maak wat die sektor se unieke uitdagings verstaan wanneer na voorsorg vir werknemers gekyk word.

Voorsiening vir die arbeidsmag

Die Landbousektor Voorsorgfonds bied boere reeds die afgelope 25 jaar in samewerking met Agri SA, die TLU SA en Absa ’n eenvoudige manier om aan hul werkers te gee wat hulle toekom.

Basie van der Merwe, hoofbeampte van die fonds, verduidelik dat die Landbousektor Voorsorgfonds ontstaan het uit die behoefte van werkgewers om hul werknemers op ’n gesonde manier te versorg. “Die fonds is daarop gemik om voorsiening te maak vir die behoeftes van die arbeidsmag, veral uit die meer tradisionele opset waar werknemers wat jare op ’n plaas werk, ook op die plaas bly, aftree en tot sterwe kom.”

Basie sê die fonds is spesifiek gemik op werkgewers en werknemers in die landbousektor. “Wat baie belangrik is om te onthou, is dat dit nie net vir plaaswerkers is nie, maar vir enige werknemer in die wye landbousektor, regdeur die waardeketting. Die Landbousektor Voorsorgfonds kan ook aan dié werknemers en hul werkgewers gemoedsrus verleen.

“Die belangrikste voordeel van die fonds is dat dit totale gemoedsrus aan die werkgewer én die werknemer kan gee. Die werkgewer weet hy voldoen aan al die wetlike en sosiale vereistes vir die versorging van sy arbeidsmag, en die werknemer weet dat sy behoeftes in ag geneem word.”

Uniek en omvattend

Die Landbousektor Voorsorgfonds bied ’n eenstop-oplossing vir voorsiening vir aftree-, uitdienstreding-, sterfte- en begrafnisvoordele, met een maandelikse bydrae wat alle voordele dek. Dié eenstop-oplossing is uiters buigsaam, maar steeds eenvoudig genoeg om administrasie te vergemaklik en koste te beperk.

Basie verduidelik dat die fonds uit verskeie planne bestaan en dat elke plan ’n unieke voordeel bied. “Ek dink die feit dat die werkgewer en werknemer saam kan sit en kies watter plan hul situasie die beste gaan pas, maak die fonds baie uniek. Elke lid kan ’n plan kies wat in daardie besigheid se unieke behoeftes voorsien, veral ten opsigte van bekostigbaarheid en voordele.”

Nog ’n belangrike voordeel is dat die fonds só saamgestel is dat dit aftree-, uitdienstreding-, sterfte- en begrafnisvoordele bied, tesame met ’n spaarkomponent op grond van die bruto bydraes wat vir elke lid gemaak is. “Dis belangrik om kennis te neem dat dié opgeloopte fondswaardes van lede oorgedra kan word indien die werknemer onder ’n volgende werkgewer aan die fonds behoort.”

Uitstekende diens

Die waarde van die fonds lê verder in die fonds se goeie rekord met die uitbetaling van eise en hantering van inligting, asook ’n baie groot fokus op uitstekende diens.

“Ek glo naverkoopdiens is ’n belangrike onderskeid tussen ’n goeie en slegte produk. Die volgehoue ondersteuning en goeie diens aan lede van die fonds is ook een van die belangrikste onderskeidingspunte tussen die Landbousektor Voorsorgfonds en ander produkte,” sê Basie.

Die spoedige hantering van eise is baie belangrik en die Landbousektor Voorsorgfonds streef daarna dat sy eise binne 24 uur uitbetaal word.

Aanlyndiens

’n Belangrik stuk gereedskap in die fonds se goeie dienslewering is ’n interaktiewe webtuiste, www.aspf.co.za, waar belangrike inligting toeganklik vir lede is. “Ons wou spesifiek ’n webtuiste ontwikkel wat interaktief is sodat werkgewers en werknemers enige vorms of ander belangrike inligting dadelik daar kan kry. Dit maak dit vir die werkgewer en die werknemer baie maklik om die fonds te gebruik.

“Om voorsorg te tref vir die toekoms, gee werkgewers en werknemers gemoedsrus. Dit is iets wat werklik nie nagelaat kan word nie. Die Landbousektor Voorsorgfonds maak dit vir werkgewers maklik om gemoedsrus vir hulself en hul werknemers te bekom,” vertel Basie. -Marike Brits, Veeplaas

Bron: AgriOrbit

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?