Kunsmisbedryf tel kop op ná droogte

Die verbruik van kunsmis het in die afgelope droogte bykans gehalveer, en die SA Kunsmisvereniging is dankbaar dat dié bedryf weer kop optel. As bemesting in die landbou ’n film was, het die storielyn tot ’n groot mate om die weer gedraai. Só het die voorsitter van SA Kunsmisvereniging (Fertasa), mnr. Adriaan de Lange, op die jaarlikse Fertasa-kongres gesê.

“Die produksie van graan in Suid-Afrika het in 2015/’16 bykans gehalveer, wat beteken dat die verbruik van kunsmis in hierdie bedryf dieselfde neiging gevolg het. Dit was egter nie net die droogste tydperk in dekades wat die kunsmisbedryf beïnvloed het nie.

“ ’n Enorme krisis in die bedryf is die tienvoudige toename in invoere van hoendervleis na Suid-Afrika. Vir elke 700kg hoendervleis wat in die land verbruik word, moet een ton mielies produseer word. Die 30 000 ton hoender wat dus ingevoer word per maand, verteenwoordig 500 000 ton mielies per jaar en dus 38 000 ton kunsmis wat per jaar minder benodig word in die plaaslike graanbedryf. Die bedryf is dus onder druk.”

Die seisoen lyk goed
“Nietemin, die huidige seisoen lyk baie goed en ons gaan na-aan ’n rekord-oes produseer, indien nie ’n nuwe rekord in die graanbedryf opstel nie. Die weer het op meeste plekke saamgespeel en die vooruitsigte lyk goed. Dit het nuwe lewe in ons bedryf geblaas en ons is dankbaar daarvoor,” sê de Lange.

Die goeie nuus vir boere is dat Fertasa voorspel dat die markte vir stikstof, fosfaat en kalium vir die voorsienbare toekoms in ’n ooraanbod sal bly, wat die internasionale prys vir hierdie insette onder druk sal hou. “Die internasionale pryse vir kunsmis is die laagste wat dit nog was. Ons hoop dat die wisselkoers ons nie te veel in onsekerheid dompel nie, maar die vooruitsigte lyk redelik stabiel.”

Gehalte van ingevoerde kunsmis
* Fertasa het die afgelope twee jaar opgemerk dat ’n behoefte ontstaan het om die gehalte van ingevoerde kunsmis te inspekteer en reguleer, nadat inspeksies ’n dekade gelede afgelas is. “In samewerking met Graan SA en die Departement van Landbou, het ons in April vanjaar in Kaapstad begin om ingevoerde kunsmis te inspekteer. Ons kan nie net alles aan die registrateur van die departement oorlaat nie en moet in beheer wees van ons eie lot. Die Sasol Trust is groot borg van hierdie proses.

“Die kunsmiswet is ook tans in ’n hersieningsproses waarin Fertasa ook kommentaar en voorstelle aan die Departement sal lewer,” het De Lange gesê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?