‘Kommersiële boere wil help’

“Die gebrek aan titelaktes is ’n ernstige saak vir swart kommersiële boere: ’n Mens kan nie in ’n plaas belê wat nie joune is nie,” het die DG van Landbou op die Nampo-Oesdag gesê.
Vir kommersiële boere is dit hartverskeurend om grond braak te sien lê, daarom wil hulle betrokke raak om opkomende boere te help, sê mnr. Milaan Thalwitzer van die Bosveldgroep.

Hy het by die mediabekendstelling van vanjaar se Nasie in Gesprek-reeks by die Nampo-Oesdag gesê net in sy eie omgewing weet hy van 40 plase in nood.

Die Bosveldgroep het ‘n werkerstrust begin waar deelnemers reeds twee jaar gelede hul skuld afbetaal het. “Alles is nou winsgedrewe. Alle deelnemers en aandeelhouers is gelukkig.”

Thalwitzer het ook gesê die groep huur grond by gemeenskappe, wat vir beide partye voordelig is.

Projekte bied geleenthede
Sy raad vir enigeen wat by transformasieprojekte betrokke is, is dat daar geen verskuilde agendas moet wees nie. Hy het gesê so ‘n projek bied wonderlike geleenthede om mense byvoorbeeld te leer hoe ‘n raad van direkteure werk en hoe om ‘n balansstaat te verstaan.

Die Bosveldgroep het twee jaar gelede met ‘n 50-50-model begin. Thalwitzer sê dit is egter baie ingewikkeld en nog baie werk moet gedoen word, veral rakende eienaarskap en titelaktes.

Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê grond is net waardevol as dit kommersiële waarde het. “Die gebrek aan titelaktes is ‘n ernstige saak vir swart kommersiële boere. Dit is regtig hartseer, het Mlengana gesê. “ ‘n Mens kan nie in ‘n plaas belê wat nie joune is nie.”

Volgens hom word druk in die Kabinet uitgeoefen dat die kwessie aandag kry.

Kapitale invloei
In Rwanda is alle grond volgens mnr. TP Nchocho, uitvoerende hoof van die Land Bank, opgemeet en vir elke vierkante meter ‘n titelakte uitgereik. Dit het tot ʼn styging in kapitale invloei in die land gelei.

Mlengana het gesê dis ‘n hartseer wekroep dat daar soveel opkomende boere is wat misluk het. “Ons het kriteria nodig om boere en grond te kies.” Hy is ‘n voorstander van vennootskappe.

Nchocho het gesê waar plase gefaal het, sal dit heeltemal van voor af opgebou moet word. Dit moet egter eerder deur die private sektor as die regering gedoen word, het hy gesê.

Die soort dialoog
Thalwitzer het verder gesê die soort dialoog wat deur Nasie in Gesprek bevorder word, moet ook op plaaslike en distrikvlak verder geneem word, sodat onder andere boere en sakelui mekaar beter kan leer ken.

Nchocho het gevra waarom grond nie eerder ‘n verenigende faktor pleks van ‘n verdelende een kan wees nie.

“Ons het sterk instellings soos die Land Bank, koöperasies en agribesighede. As almal van ons meer kan doen en leierskap kan gee, kan die landbou van die grond af boontoe meer produktief gemaak word.”
Bron: landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?