Herfs-kommandowurn: Gevaarlikste pes nóg

Die landboubedryf moes die afgelope tyd verskeie rampe hanteer, want as daar nie ‘n droogte is nie staar boere ‘n ernstige monster in die gesig, naamlik die herfs-kommandowurm (spodoptera frugiperda). Dit is ‘n uitheemse wurm wat al in Limpopo, Gauteng, Vrystaat en die Wes-Kaap opgemerk is en boere kan nie die uitbreking hiervan keer nie.

“Ons weet nie presies hoe die wurm in Afrika optree nie, maar dit blyk dat die volwassenes hulle eiers op die mielies lê waar die larwes dan ontwikkel. Hulle loop (tot nou toe) darem nie in groot getalle nie,” sê Jan Hendrik Venter, wetenskaplike bestuurder by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se Plantgesondheidsdepartement.

As mense hulle nie doodmaak nie sal hulle in volwasse motte ontwikkel, wat weer sal eiers lê. “Dit hang van die pes af, maar hulle sal òf nog ‘n lewensiklus afhandel en meer skade aanrig òf eers oorwinter òf eenvoudig doodgaan.”

Die groot probleem is dat die gewone plaagdoder, piretroïed, nie die wurm vankant maak nie. Boere moet die aanbevole plaagdoders onmiddellik gebruik (sien skakel na aanbevole lys onderaan artikel), maar “verkieslik wanneer die mielieplant redelik jonk is aangesien die larwes diep in die blaar ingaan waar plaagdoder dit nie kan bykom nie.

“Die aanbevole plaagdoders sal die plaag in ‘n sekere mate beheer, maar hulle is nog nie geregistreer nie. Plaagdoderverskaffers moet dringend aansoek doen om registrasie,” sê Jan Hendrik.

Daar is ook ‘n Afrika-kommandowurm, maar die herfskommandowurm is skadeliker. Die Afrika-kommandowurm het sedert Desember groot skade aan oeste in Zambië, Zimbabwe en onlangs ook Malawi aangerig. Dit is oorspronklik vir groot verliese in Suid-Amerika verantwoordelik, maar is in 2016 die eerste keer in Wes- en Sentraal-Afrika opgemerk.

Daar is wel geregistreerde plaagdoders vir die Afrika-kommandowurm, maar niks is nog geregistreer vir die herfs-kommandowurm nie, aangesien dit nog nooit in Suid-Afrika was nie.

Die herfs-kommandowurm vreet net mielies. “Dit het ‘n wye gasheerreeks, maar as dit inderdaad die herfs-kommandowurm is wat skade doen in Suid-Afrika, is dit sover net ingesamel uit mielies, maar meer op suikermielies, mielies vir saadproduksie en kleinskaalse produksie,” sê Jan Hendrik.

Wetenskaplikes van die LNR en Noordwes-universiteit het ook monsters gekry vir identifikasie. Die insek moet sy hele lewensiklus voltooi voor ‘n positiewe identifikasie by die LNR Biosistematiek-afdeling gemaak kan word.

Die lewensiklus van die herfs-kommandowurm van eier tot volwassene (mot) neem 24 tot 40 dae afhangende van weerstoestande en beskikbare kos. Die identifikasieproses sal begin sodra die motte uit papies ontwikkel. Die pesidentifikasie sal deur ‘n erkende spesialis in die taksonomie van die toepaslike insekgroep bevestig word, sê die Departement van Landbou.

Aangesien die motte goeie vlieërs is, kan windstrome ‘n rol speel om hulle te help om oor groot afstande te versprei. Die Departement sê ook omdat die wurm nuut is, weet niemand watter langermyneffekte hy kan uitoefen nie. Dit mag ‘n migrasiepes wees wat verwant is aan die Afrika-kommandowurm en kan in groot getalle vanaf een gebied na ‘n ander migreer omskade aan te rig.

Die Departement van Landbou het alreeds met rolspelers uit verskeie bedrywe koppe bymekaargesit om ‘n plan van aksie vas te stel. Die eerste stap is om die pes te bevestig en om akkurate inligting daaroor te bekom, daarna sal ‘n beheerstrategie in werking gestel word.

Die grootste gevaar is dat die plaag dal verkeerd bestuur kan word. Dit kan lei tot weerstandigheid teen plaagdoders en tot verdere produksieverliese.

Boere bestry soms Afrika-kommandowurm deur slote om die lande te grawe. Die wurms val daarin en kom nie anderkant uit nie. Volgens Jan Hendrik sal dit werk vir die Afrika-kommandowurm, maar nie vir die herfs-kommandowurm nie.

Nog ‘n nuwe pes

Die Departement van Landbou sê daar is nou ook ‘n nuwe pes in ons midde wat baie dieselfde as die herfs-kommandowurm is. Die Departement het in Januarie vanjaar verskeie verslae van boere gekry van ‘n ongeïdentifiseerde Lepidoptera-pes wat ook skade aan mielies aanrig, maar die pes is al vanaf Desember by sommige boere opgemerk.

“Daar is duisende insekte wat nog nie in Suid-Afrika voorkom nie en hulle kan die land op enige tyd binnekom. Sommiges is landboupeste, maar dis moeilik om te raai,” sê Jan Hendrik.

Hy doen ‘n beroep op boere om hulle bure te waarsku as die plaag op pad is. Goeie kommunikasie help altyd baie om peste en plae te bestry.”

Boere moet ook die Departement van Landbou in kennis stel indien hulle kwarantynpeste het. Daarvoor kan hulle Jan Hendrik Venter by 072-348-8431 of 012-319-6384 skakel, of stuur vir hom ‘n e-pos na janhendrikv@daff.gov.za.

Die voorlopige tussentydse gids vir die gebruik van landbouchemikalieë om die herfs-kommandowurm te beheer, is hier beskikbaar: http://www.grainsa.co.za/upload/Interim%20pest%20guide.pdf

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?