Groentepryse daal

Goeie nuus vir verbruikers is dat die prys van sommige groentesoorte wat verlede jaar dié tyd baie duur was vanjaar aansienlik goedkoper geword het. Dít is danksy die goeie reën wat voorraadvlakke verhoog het, sê Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom by Absa.

“Die laer pryse vir groente, veral aartappels, kan beslis ’n positiewe impak op voedselinflasie hê, wat teen die derde kwartaal vanjaar behoort te daal,” het Lemmer gesê. Maar in sommige gevalle is pryse laer omdat gehalte ingeboet word. Liefhebbers van slaptjips sal bly wees om te hoor dat aartappelpryse na verwagting van vandeesmaand af onder druk sal wees.

“Die huidige prys is heelwat laer as ’n jaar gelede en ’n sywaartse beweging kan tot die einde van volgende week verwag word weens die verhoogde volumes wat aan die mark voorsien word,” sê Lemmer. Die huidige markgemiddeld is sowat R41,43 per 10 kg-sak aartappels.

Soetrissies

Nóg ’n groentesoort waarvoor verbruikers gewoonlik die sak skud, is soetrissies, veral die geel en rooi soorte, wat duurder as die gewone groen soetrissie is. In terme van waarde, is soetrissies die op vier na die grootste groenteoes wat op die Johannesburgse varsproduktemark verhandel word, sê Lemmer

Maar die prys is onder groot druk.

“Gedurende Desember en oor die Kerstyd is die volumes wat in die mark beland het minder as gewoonlik weens arbeidstekorte, maar dit het in Januarie herstel.” Nog ’n rede vir die prysdaling is omdat die gehalte van sommige soetrissies nie so goed as gewoonlik is nie, sê Lemmer. “Verbruikers soek geel of rooi soetrissies, maar in Januarie het die kleur van die groen soetrissie begin verander in halfpad tussen groen en rooi, wat die produk minder gesog maak.” Volume het op die Johannesburgse varsproduktemark toegeneem tot sowat 14 000 bokse per dag en dit het tot ’n taamlike prysverlaging in Januarie gelei. “Die pryse is so laag, dit raak nou moeilik vir soetrissie-produsente om gelyk te breek,” sê Lemmer.

Wortels en uie

Die prys van wortels sal na verwagting tussen Maart en April vanjaar begin styg. “Weens die onlangse reën is die wortels wat tans by die varsproduktemarkte ontvang word van laer gehalte as gewoonlik. Die prysverskil tussen wortels van ’n hoë en van ’n laer gehalte het ook groter geword.” Weens die warmer winter en hoër temperature in November en Desember is die raklewe en gehalte van uie ook negatief geraak, en dit het tot ’n prysdaling gelei. “Die verwagting is dat pryse onder druk sal bly vir die volgende vier tot ses weke, maar dat dit dan in die koeler seisoen begin styg,” sê Lemmer.

Tamaties

Daar is min tamaties en die gehalte is ook swakker as gewoonlik weens groter temperatuurvariasie. “In die Wes-Kaap is die oes deur die hitte geknou en dit het volume negatief geraak.” Pryse sal na verwagting tussen R12 tot R15 per kilogram vir die volgende drie maande bly.

Bron: Netwerk24 (http://www.netwerk24.com/Sake/Landbou/groentepryse-daal-20170207)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?