Gaan ons verbruikersweerstand teen beesvleis sien?

Almal het vermoed dat die 2015/2016-droogte ’n langtermyn-invloed op die prys van rooivleis gaan hê as gevolg van die diere wat uit nood geslag moes word. Niemand kon egter die invloed akkuraat voorspel nie, aangesien die getalle van noodslagtings nie bekend was nie en die konsepsiesyfers van vroulike diere in 2016 ook maar geskat is.

Wonderlike reën het egter aan die einde van 2016 begin uitsak, wat veroorsaak het dat graanpryse tans baie laag is terwyl groot dele van die veeproduserende gebiede se weiding ook redelik herstel het. Tans is die scenario dus dat veeprodusente groot getalle van hul vroulike diere terughou om weer hul kuddes op te bou ná die droogte en graanprodusente hul speenkalwers terughou om self te voer, aangesien die mielieprys baie laag is.

Voerkrale sukkel om speenkalwers te kry weens die tekort. Die tekort aan kalwers (lae aanbod) dwing dus die voerkrale om meer op te dok vir kalwers. Aan die ander is die voerkrale bereid om meer te betaal, aangesien hulle die duurder kalwers kan bekostig teen die huidige laer voerpryse.

Die skerp styging in die prys van speenkalwers het ook die karkaspryse van beesvleis tot nuwe hoogtes gejaag. Die interessante feit is dat, hoewel die gemiddelde speenlamprys ook effens verbeter het, die prysgaping tussen speenkalwers en -lammers en dié tussen tussen bees- en lamkarkasse baie verklein het.

Die onlangse verlede het ons geleer dat, indien die karkasprys van lam (A2) wat die produsente kry, bo R70/kg styg, verbruikersweerstand in die kleinhandel ontstaan, aangesien lamsvleis dan net te duur word vir die verbruiker en hulle dan terugval op beesvleis. In die verlede het ons nog nie werklik die verbruikersweerstandvlak teen beesvleis gesien nie. Dus word in spanning gewag om te sien waar die beesvleisprys uiteindelik gaan draai.

Nog ’n onseker situasie is die invloed wat die hoër beesvleispryse op die lamprys gaan hê. Soos reeds genoem, val die verbruiker gewoonlik terug na beesvleis wanneer lamsvleis onbekostigbaar word.  Nou is beesvleis egter baie duurder, wat kan veroorsaak dat die verbruiker minder lamsvleis koop en dalk selfs minder beesvleis en eerder terugval na vark- en hoendervleis. Die hoë beesvleispryse kan dus maklik ’n negatiewe uitwerking op die prys van lamsvleis hê.
Bron: AgriOrbit

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?