Die snoeke lóóp nou

Die tyd het aangebreek waar alle vissermanne hulle tyd op die see en in die skuite ten volle benut. Die snoekseisoen is op hande en al wat leef en beef geniet hierdie wonderlike vissoort.

Einde Maart tot April staan bekend as die tyd wanneer snoek volop teen die Weskus loop. Die snoekseisoen het egter vanjaar baie later as gewoonlik aangebreek. Port Nolloth was eerste bewus van skole snoek in die diep blou. Dit was duidelik dat die Weskus eers ná Paasnaweek die vangs van hierdie vissoort kan begin.

Doringbaai spog met snoek wat al vandeesweek in groot hoeveelhede gevang is. Plaaslike vissermanne kan nie voor bly met die vangs nie. Soos hul skuite behoorlik oorloop van die vis, is die dankbare uitdrukkings op hul gesigte duidelik te sien. Dit bied vir hierdie mense grootliks hul jaarlikse inkomste. Vissermanne verkoop die snoek plaaslik en vlek en verpak dit in sommige gevalle self. Ander Weskus-dorpies soos Lambertsbaai en Velddrift, asook Laaiplek benut ook die snoekseisoen tot sy volle potensiaal. Meeste wegneemete-winkels aan die Weskus verkoop snoek en toeriste sowel as die plaaslike inwoners is gaande daaroor – met lekker aartappelskyfies of selfs oor die kole gebraai.

Hierdie vis is al vir baie jare ’n gunsteling. Maak seker jy mis nie daarop uit om hierdie seisoen jou plaaslike vissermanne te ondersteun en ook hierdie vis te geniet nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lightspeed Digital Media.

Log in with your credentials

Forgot your details?