Die impak van 2017 se begrotingsrede op die landbou

Die nagenoeg R30 miljard wat in die begrotingsrede aan landbou toegewys is, is goeie nuus, maar die groot vraag is hoe dit bestee gaan word om die bedryf op ’n groeipad te plaas. Só het dr Langa Simela, besigheidsontwikkelingsbestuurder by Absa, in kommentaar gesê. Die begrotingsbesteding vir landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming sal met 2% toeneem van net minder as R26 miljard in 2016/2017 tot R26,5 miljard in die 2017/2018-begrotingsjaar en nagenoeg R30 miljard in 2019/2020.

In kommentaar op die begrotingsrede, het verskeie organisasies in die kommersiële landbou kommer uitgespreek oor bykomende belastings en heffings soos die belasting op bygevoegde of natuurlike suiker-versoete drankies. Die hoë brandstofheffings, sonde- of aksynsbelasting op tabak en alkohol, veral op wyn, asook koolstofbelasting wat later vanjaar in die vooruitsig gestel word, kan landbou-produksievlakke negatief beïnvloed en arbeidsverliese tot gevolg hê, sê Johannes Möller, die president van Agri SA. Suikerrietproduksie dra beduidend tot die land se ekonomie by en verskaf werk aan sowat 80 000 mense.

Uit die landbousektor is positiewe reaksie op die begrotingsrede ontvang vir die insluiting van ’n bykomende R266 miljoen ter ondersteuning van die akwakultuur-sektor. Die dieselterugbetalingstelsel vir produsente word ook gehandhaaf en sal van R2,62 per liter tot R2,83 per liter styg. Geen toewysing is vir droogte gedoen nie.

Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Besigheid en Landbou, sê die spesifieke toewysing/allokering van geld vir transformasiedoelwitte in die landbou bied beperkte geleentheid om radikale transformasie toe te pas. Die toewysing vir die herverdeling van grond het met 3% afgeneem en restitusie het met 2,5% toegeneem.

Dr John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, het ook in sy kommentaar daarop gewys dat die sektor se begrotingstoewysing vir transformasie op ’n beskeie pas vir transformasie dui. Dit is ondanks regeringslui se uitsprake ten gunste van radikale ekonomiese transformasie in die landbousektor. – Marti Kirstein, AgriOrbit

Bron : http://agriorbit.com/die-impak-van-2017-se-begrotingsrede-op-die-landbou/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?