Brexit: SA uitvoerkwotas na EU ‘moet bly’

Die Regering wil samesprekings met Brittanje voer sodat handel met dié land nie weens Brexit onderbreek word nie. Suid-Afrika sal nie ’n verlaging in sy tariefvrye kwotas aanvaar indien die Europese Unie só ’n rigting wil inslaan weens Brexit nie, sê dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid.

Davies, een van die genooide sprekers by die handelsregsentrum (Tralac) se jaarlikse konferensie, het hierdie sterk boodskap gestuur rakende Brittanje se vertrek uit die EU.

Einde verlede jaar het die Suider-Afrikaanse Doeane-unie en die Europese Unie ’n ekonomiese ooreenkoms (EPA) onderteken waaronder meer marktoegang vir verskeie landbouprodukte bekom is.

Beskerming vir SA produkname

Met die ooreenkoms het verskeie Suid-Afrikaanse produkname beskerming gekry en vir die eerste keer kon die land 150 000 ton suiker en 80 000 ton etanol tariefvry na die EU uitvoer.

Die deur is ook oopgemaak vir die tariefvrye uitvoer van ’n bykomende 60 miljoen liter wyn. Altesaam 110 miljoen liter Suid-Afrikaanse wyn kan dus tariefvry na die EU uitgevoer word. Verbeterde toegang vir geblikte vrugte, blomme, sekere suiwelprodukte, gis en vrugtesap is ook beklink.

“Waarom moet ons enige verlagings kry. Dit is ons boodskap aan die EU en as daarop aangedring word, dan onderhandel ons nie. Die bestaande EPA moet bly. Totdat iemand kom en daarteen redeneer, is dit ons posisie,” sê Davies.

Kwotas kan nie nou verlaag
Die argument wat die Regering volg is dat toe ander lande by die EU aangesluit het, die uitvoerkwotas van Suid-Afrikaanse produkte nie verhoog is nie en daarom kan die kwotas nie met Brittanje se vertrek verlaag nie.

Davies sê Brittanje se vertrek uit die EU het niks met Suid-Afrika te doen nie. “Dit is nie ons besigheid nie, dis hulle s’n. Ons sê nie dat Brexit ’n goeie of ’n slegte ding is nie. Ons sê net dat ons moet seker maak dat ons nie negatief daardeur beïnvloed word nie.”

Die Regering wil nou poog om solank samesprekings met Brittanje te voer sodat handel met dié land nie weens Brexit onderbreek word nie.

Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?