Blaaskans met diesel vir boere

Afslagkaarte vir goedkoper diesel en die beoogde 100% dieselrabat kan die stremming op boere se beursies ligter maak. Boere kan sowat R127,35 miljoen bespaar met die SA Inkomstediens se beoogde verhoogde dieselrabat, wat saam met die afslagkaarte vir diesel wat die TLU SA aanbied, welkome verligting kan bied.

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, sê in ’n skrywe dié unie het verlede jaar ’n mandaat ontvang om afslagkaarte vir diesel uit te rol waar gebruikers ’n besparing van 70c per liter kan kry vir elke liter diesel wat hulle by Shell-vulstasies ingooi. Heelwat gebruikers het al geregistreer om diesel met dié kaarte te koop.

Die TLU SA bied dié unieke diens met die samewerking van Kiaranix aan.

Afslag wissel van R156,80 tot R1760,50 per maand
Die TLU SA het enkele steekproewe gedoen om vas te stel hoe die stelsel werk. Enkele verbruikers se besparing is nagegaan. Die afslag het gewissel van R156,80 per maand vir 224 liter diesel, tot ’n verbruiker wat 2515 liter diesel gekoop en só R1760,50 se afslag ontvang het. Dié verbruiker se totale afslag sal, oor ’n jaar-tydperk geprojekteer, sowat R21 120 beloop!

Van Zyl sê die projek is nog in sy kinderskoene, maar die moontlikheid van massa-aflewerings kan onder sekere omstandighede ook gedoen word. “Kiaranix het nou ʼn kontrak met ’n maatskappy geteken om massa-diesel aan kliënte reg oor Suid-Afrika te lewer. Hierdie transaksies sal per kwotasie plaasvind.”

Beskikbare vragmotors
Die logistiek, asook die terreine vir aflewering, moet egter in berekening gebring word – veral aangesien dit die finale koste sal beïnvloed. Die kleinste beskikbare vragmotors se volume is 20 000 liter diesel en kan in ’n maksimum van twee aflewerings gedoen word (die verhouding van aflewering kan verskil).

Die versoek van die gekontrakteerde logistieke maatskappy is dat die aflewering ook nie meer as 10 km uitmekaar moet wees nie. Faktore wat die prys van lewering beïnvloed, is bv. afstande vanaf depot’s, toegangsroetes na die afleweringspunte, asook sekuriteit, ens. Kontak die agente om ’n kwotasie te kry, sê Van Zyl.

Beoogde verhoging in dieselrabat
Die SA Inkomstediens het intussen laat blyk dat hy dit oorweeg om die dieselrabat van 80% tot 100% te verhoog, met sekere voorwaardes.

Mnr. Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom en een van die vaders van die skep van die dieselrabat vir die landbou, het ’n berekening gedoen en meen dié vergunning sal boere sowat R127, 35 miljoen per jaar bespaar.

Sy berekening lyk so: Gestel ’n mielieboer gebruik 90 liter per hektaar, dan sal hy nou, met 80% liter vir produksiedoeleindes dus vir 72 liter per hektaar die rabat kry. Vir 100% van sy liters sal hy dan vir 90 liter per hektaar die rabat kry.

“Die verskil is 18 liter per hektaar X die dieselrabat van R2,83 per liter: Dit beloop R50,94 per hektaar. Indien mielieboere byvoorbeeld 2,5 miljoen hektaar mielies sou plant, sal die totale kostebesparing R127,35 miljoen wees. Dit sal natuurlik vir al die ander bedrywe verskillend wees,” het Brink gesê.

Meer oor SAID se voorstel
Mnr. Corné Louw, senior ekonoom van Graan SA, sê Brink se berekening is korrek as die produsent se dieselgebruik nét op die plaas vir kwalifiserende werksaamhede gebruik is. Die voorstel van die SAID se nuwe stelsel is dat alle vervoer en verwerking uitgesluit moet word.

“Die verskil tussen wen of verloor sal wees of die produsent se vervoer en verwerkingsgedeelte naby aan 20% van sy dieselverbruik kom.”

Volgens Louw sou die SAID se voorstel die afgelope week by Agri SA bespreek word, waar meer duidelikheid na vore sou kom.

Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?