Kleinste wyndruifoes in ’n dekade

Volgens ʼn opname deur die bedryfsliggaam Sawis (SA wynbedryf-inligting en -stelsels) het kelders en wingerdkundiges in die laaste week van November beraam dat die 2018-wyndruifoes heelwat kleiner gaan wees as in 2017 – en dat hierdie selfs die kleinste oes sedert 2005 kan wees.

Droogte, ʼn krimpende wingerdstand en rypskade word as die drie vernaamste oorsake van die kleiner oes voorgehou. Volgens Francois Viljoen, VinPro se konsultasiediensbestuurder, speel die voortslepende droogte wat die Wes-Kaap reeds die derde agtereenvolgende seisoen ondervind, ʼn groot rol in die grootte van die oes. “Die meeste van die bedryf se groot besproeiingsdamme is in hierdie stadium tussen 30% en 40% vol. Dit beteken dat wyndruifprodusente se watervoorraad met tussen 40% en 60% gesny is en dus nie aan die wingerde se volle waterbehoeftes kan voldoen nie,” sê hy.

Veral in die Olifantsrivier-wynstreek kry produsente minder as 25% van die normale waterkwota uit die Clanwilliamdam en ʼn baie kleiner oes word in hierdie streek verwag. Dit is slegs die Oranjerivier-streek wat tans geen watertekorte ondervind nie.

Die Suid-Afrikaanse wingerdstand krimp ook jaarliks sedert 2007. Die bedryf kap meer wingerde uit as wat aangeplant word; ʼn neiging wat die afgelope twee jaar versnel het. In 2016 was die totale wingerdstand 95 775ha teenoor 100 568ha in 2011 – ʼn 5% daling oor die afgelope vyf jaar.

Wydverspreide rypskade
Laastens het wydverspreide rypskade aan die einde van September en begin Oktober voorgekom, wat tot groot oesverliese in sekere gebiede in die Oranjerivier-, Breedekloof-, Worcester- en Robertson-wynstreke aanleiding gegee het.

“Ondanks die feit dat ʼn heelwat kleiner wyndruifoes in 2018 verwag word, vertoon die wingerde nog in hierdie stadium baie goed danksy gereelde reënbuie in Oktober en November, tesame met koeler weerstoestande tot einde November,” sê Viljoen. Die wingerde groei oor die algemeen goed en geen noemenswaardige swamsiektes of plae het tot dusver voorgekom nie.
“Die lae damvlakke en onvoldoende watervoorrade sal waarskynlik die grootste bepaler van ʼn kleiner 2018-oes wees. Goeie, gereelde reënbuie in Desember en Januarie kan natuurlik groot verligting bring en die vooruitsig nog verander,” sê Viljoen.

Werkgeleenthede neem af
“Die kleiner wyndruifoes gaan tot ʼn groot afname in seisoenale werkgeleenthede lei, wat ʼn wesenlike effek op die sosio-ekonomiese welvaart van wynbedryfgemeenskappe sal hê. Die Olifantsrivierstreek gaan waarskynlik die ergste hierdeur geraak word,” sê VinPro se besturende direkteur, Rico Basson.

Suid-Afrika is egter nie die enigste wynproduserende land wat ʼn kleiner oes gaan hê nie. Frankryk, Italië, Spanje en Kalifornië se opbrengste het ook onder natuurverskynsels deurgeloop, wat, tesame met ʼn groter vraag, tot wêreldwye tekorte in sekere kategorieë lei.

“Hoewel wynrakke nie skielik leeg gaan wees nie, bied die relatiewe wyntekort ʼn gulde geleentheid vir die Suid-Afrikaanse bedryf om teen hoër pryspunte mee te ding,” sê Basson.
Suid-Afrika is die negende grootste wyndruifprodusent ter wêreld en dra 4% tot wêreldproduksie by. Die bedryf voer 440 miljoen liter wyn uit en verkoop 400 miljoen liter plaaslik. – Persverklaring

Berig verskaf deur agriorbit.com/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?