Laerskool Vredendal – Woorde Open Wêrelde-spelkompetisie

WOW spelkompetisie – Grondslagfase:

Die afgelope kwartaal het die Graad 1 tot 3 leerders van Laerskool Vredendal deelgeneem aan die Woorde Open Wêrelde (WOW)-spelkompetisie. Elke leerder het ’n spellys met 300 woorde op ontvang wat hulle moes leer. Vir elke ronde moes hulle ’n skriftelike toets skryf en woorde wat vir hul gevra word mondelings klank en spel.

Volgens Cobus Nieuwoudt, assistent onderwyser van Laerskool Vredendal, het alle leerders aan die eerste ronde deelgeneem en elke graad het dit in klasverband gedoen. Uit elke graad moes 3 leerders gekies word om aan die volgende rondte deel te neem. Die Graad 1- en 2-leerders het hul so goed van hul taak gekwyt dat daar vyf Graad 1-leerders en vier Graad 2-leerders deurgegaan het.

Die tweede ronde het op 7 Augustus by Vergenoeg Primêr plaasgevind. Die eerste ses leerders in elke graad het deurgedring na die volgende ronde. Die eerste drie plekke het elkeen ’n medalje en ’n boek ontvang. In Graad 1 is drie leerders – Marlouise du Toit, Milan Swanepoel en Lara Wiese – drie Graad 2-leerders -Tica le Roux, Marné Smit en Liandré de Waal – en twee Graad 3-leerders – Amoré Lloyd en Caitlin de Kock van Laerskool Vredendal – deur. Vier van hierdie leerders het medaljes ontvang.

Tydens die derde ronde op 1 September op Citrusdal moes hierdie leerders volgens Nieuwoudt na die kompetisie weer terugjaag om betyds te wees vir die Grondslagfase-konsert.  Die eerste vier leerders gaan deur na die nasionale kompetisie. In Graad 1 het Marlouise du Toit ʼn derde plek en Milan Swanepoel ʼn vierde plek behaal en in Graad 3 het Amaré Lloyd ʼn eerste plek behaal.

Hierdie drie leerders het volgens Nieuwoudt op 9 September deelgeneem aan die nasionale kompetisie op Stellenbosch. Hulle het hulle goed van hulle taak gekwyt, maar ongelukkig nie deurgedring na die volgende rondte nie.

“Hierdie leerders het die skool trots gemaak en van hulle is al weer besig om te oefen vir volgende jaar se kompetisie,” sê Nieuwoudt.

WOW vir dié spellers:

Gedurende die tweede kwartaal vind die eerste ronde van die WOW-spelkompetisie in skoolverband plaas waar leerders volgens Nieuwoudt in klasverband meeding om te bepaal wie aan die tweede ronde gaan deelneem. Die top 3 spellers word volgens hom in elke graad so geïdentifiseer.

Die tweede ronde van die jaarlike WOW-spelkompetisie het vanjaar op 7 Augustus by Vergenoeg Primêr plaasgevind en drie leerders van Laerskool Vredendal – uit Gr. 4 tot 7 – het hul skool by die kringkompetisie verteenwoordig.  

“Elke deelnemer moes eerstens ’n speltoets skryf wat uit 30 woorde bestaan. Hierdie woorde is afkomstig uit die spellyste wat hulle van WOW ontvang, asook vreemde woorde. Daarna moes hulle woorde hardop spel en sodoende is die wenners bepaal,” verduidelik Nieuwoudt.

Die intermediêre fase van Laerskool Vredendal kon vanjaar spog met San-Mari Turner (kampioen) en Marié Sieberhagen (vierde plek) in graad 4 asook Jan-Hendré Spamer (kampioen) en Jada Nel (sesde plek) in graad 5 wat deurdring na die volgende ronde.

Op 1 September het die derde ronde van vanjaar se kompetisie op Citrusdal plaasgevind.  San-Mari Turner het volgens Nieuwoudt besonder goed gevaar en ’n derde plek behaal. Sy kwalifiseer daarmee om aan die volgende ronde op Stellenbosch deel te neem.  

“Te midde van ’n baie bedrywige kwartaal het hierdie leerders baie ekstra ure ingesit om voor te berei vir die kompetisie en ons is baie trots op hierdie mooi prestasies,” sê Nieuwoudt.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?