Kuilvoer SA hou eerste vergadering

Suid-Afrika se nasionale kuilvoervereniging is in 2016 by Monsanto SA se kuilvoerkongres tydens Alfa 2016 gestig. Dié vereniging het ontstaan uit samewerking vir die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, wat jaarliks in samewerking met Veeplaas en Stockfarm aangebied word, en die behoefte aan sentrale samewerking vir die verbetering van die kuilvoerbedryf.

“Die vereniging se doel is bevordering van die produksie van gehalte-kuilvoer in Suid-Afrika. ’n Belangrike been hiervan is die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie wat voortaan binne die vereniging gehuisves sal word,” verduidelik Richardt Venter, voorsiter van die vereniging.

Rolspelers kwalifiseer vir betrokkenheid by die vereniging deur deelname aan die kompetisie. “Die vereniging gee alle partye betrokke by die kuilvoerkompetisie ’n objektiewe, onafhanklike platform waar hulle oor kuilvoer en die verbetering van die gehalte daarvan kan gesels.”

Na afloop van die prysuitdeling van die 2016 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie op 22 Februarie in Centurion is die eerste vergadering van die vereniging gehou. Op die vergadering is besluit dat die vereniging voortaan as Kuilvoer SA (Silage SA) sal bekendstaan.

Kuilvoer SA het ná die vergadering bekendgemaak dat die 2017 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie reeds in Maart vanjaar in samewerking met Veeplaas en Stockfarm sal begin. “Die mikpunt is dan om die wenner reeds tydens Alfa 2017 in September vanjaar aan te wys.” – Marike Brits, Veeplaas

Bron : http://agriorbit.com/kuilvoer-sa-hou-eerste-vergadering/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?