Só knou droogte in Wes-Kaap die hele land

Die Wes-Kaap is steeds in die greep van een van die ergste droogtes in jare, die damvlakke bly laag en waterbeperkings is ingestel. Dié provinsie is egter die tuiste van ’n baie belangrike deel van die landbou-ekonomie in Suid-Afrika, skryf Dawie Maree, FNB se landbou-spesialis.

1. Dís waarom dit moet reën in die Wes-Kaap:
Die Wes-Kaap is seker Suid-Afrika se belangrikste uitvoerprovinsie wat landbouprodukte betref. Die sagtevrugte-, wyn- en toenemend ook die sitrusbedryf het ’n gevestigde basis in die Wes-Kaap en is alles hoof-uitvoerprodukte wat aansienlik tot die algehele landbou-ekonomie in die land bydra. As enige van hierdie bedrywe swaarkry, benadeel dit die Suid-Afrikaanse landboubedryf in die geheel, asook die plaaslike ekonomie.

2. Só dra landbou hier by tot die land se bruto binnelandse produk (BBP):
Die Wes-Kaap is verantwoordelik vir sowat 24% van Suid-Afrika se totale BBP. Die landbou­bedryf se totale bydrae tot die Wes-Kaap se BBP is 4% Dit is egter belangrik om kennis te neem dat landbou, asook die landbouverwerkingsektor, hier vir 18% van die provinsie se werkgeleenthede verantwoordelik is.

3. Hoe raak die droogte werkgeleenthede?
Die droogte sal beslis die grootste invloed op seisoenale werkers in die vrugtebedryf hê. Minder seisoenwerkers kan dalk in diens geneem word weens laer vrugteproduksie. Dit het op sy beurt sosio-ekonomiese gevolge weens ’n afname in werk­geleenthede. In die eerste kwartaal vanjaar was daar 215 000 werknemers in die landbou­sektor in die Wes-Kaap. Dit is sowat 14,2% minder werkgeleenthede as in die vierde kwartaal verlede jaar. ’n Groot persentasie hiervan is weens seisoenwerk, maar dit is 5,9% minder werknemers as dieselfde tydperk in 2016 toe 228 000 mense in die landboubedryf hier gewerk het. Dit is duidelik ’n gevolg van die droogte. Die Wes-Kaap het die grootste landbou-arbeidsmag in Suid-Afrika – altesaam 24,5%.

4. Só raak die droogte die Wes-Kaap én die land:
Die Wes-Kaap is ’n belangrike provinsie vir landbou-uitvoere en as die droogte nie binnekort eindig nie, sal dit beslis ’n baie negatiewe uitwerking op die langtermyn- ekonomiese groei van die provinsie en op die land se ekonomie hê. Die Wes-Kaap het onlangs ­reën gekry, maar die droogte is nog nie verbreek nie. ’n Belangrike bydraende faktor van die droogte het ’n negatiewe uitwerking op die koringbedryf gehad, wat die aanbod van dié landbougewas ernstig belemmer. Dit het weer ’n uitwerking op die koringprys en moontlik ook die broodprys. Hoewel Suid-Afrika ’n netto invoerder van koring is, beteken dit dat ons dalk nog meer koring sal moet invoer as wat ons normaalweg invoer. Van hierdie verliese in koringproduksie kan dalk deur verhoogde produksie in die Vrystaat en Noord-Kaap opgemaak word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?