Klimatoloog verduidelik erge warm 2016

Suid-Afrika het sy warmste jaar nog gehad in 2016, wat die klimatoloog mnr. Johan van den Berg aan natuurlike klimaatskommelinge sowel as mensgemaakte faktore toeskryf.
Hoewel dit voorkom asof Suid-Afrika, én die res van die wêreld, in 2016 sy warmste jaar nog gehad het, is die hitte toe te skryf aan natuurlike klimaatskommelinge, sowel as mensgemaakte faktore.

Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou, stem saam met die Amerikaanse ruimte-agentskap (Nasa) se bevinding dat die wêreld inderdaad warmer as ooit tevore was in die afgelope jare.

Hy sê egter dat die effek van die droogte en gepaardgaande hitte ‘n groot aandeel in die erge hitte van 2016 gehad het.

“Droogte en hitte gaan saam met mekaar. Ons het die afgelope jare ‘n opboufase van hitte gehad in die aardoppervlakte. Daar was min reën en wolke en gevolglik min afkoeling.”

Kaal oppervlaktes dra ook aansienlik by tot hoër temperature. “Oorbenutting van weiveld en dus minder plante het veroorsaak dat grondoppervlaktes en dieper grond aansienlik verhit het.”

Bedekte grond is koeler
Volgens Van den Berg word die temperatuur van grond wat met groen plante bedek is nie so hoog soos dié van kaal grond nie. Dus dra oop grondoppervlakte weens droogtetoestand verder by tot die hitte wat in die eerste plek plante laat vrek het.

“Indien die effek van kweekhuisgasse bykom, verhoed dit die energie om teruggestraal te word na die atmosfeer. Dus veroorsaak mensgemaakte aksies dat die effek van ‘n normale of effens buite die normale gebeurtenis nou oorgaan in uiterstes.”

Siklusse van jare met baie of min reën kom egter ook voor. “Indien daar vir die volgende paar jaar weer meer reën voorkom, sal meer gras, plantbedekking en wolke weer tot ‘n paar koeler jare lei.”

Selfs die energievlakke van die son kan ‘n impak hê op die temperature op aarde.

Die ouer tydperk
“Die aarde het in 1645 tot 1715 ‘n kouer tydperk beleef. Winters was lank en koud en kosproduksie was onder druk. Dit staan bekend as die ‘maunder minimum’ toe die energievlakke van die son laer was en min sonvlekke voorgekom het.”

Die piek van die sogenaamde “moderne maksimum”, gekarakteriseer deur bogemiddelde energievlakke van die son, word tans ervaar.

Van den Berg waarsku dat die mensdom egter weens die druk op natuurlike hulpbronne meer weerbaar is vir klimaatskommelinge.

” ‘n Voorbeeld is die droogtes wat ons die afgelope paar jaar ervaar het. Soortgelyke droogtes het in al die verlede voorgekom en gaan weer in die toekoms voorkom. Die waterverbruik ‘n paar dekades terug was baie minder omdat daar minder mense was en ook minder besproeiing.

“Droogtes was steeds erg in die verlede maar op ‘n kleiner skaal. Die besoedelingsvlakke van waterbronne speel ook ‘n rol. Dié mensgemaakte elemente begin om groot druk op die natuurlike variasie in klimaat te plaas.”

Van den Berg sê ‘n soortgelyke periode van verwarming as die huidige kom omtrent elke 100 000 jaar in die afgelope 500 000 jaar voor.

Klimaat en die landbou
Klimaatsverandering speel ook ‘n rol om spesiesamestelling te verander.

“Landbouproduksie het die afgelope dekades positief gereageer en het die gemiddelde opbrengs van mielies byvoorbeeld in ‘n paar dekades verhoog van ongeveer 1 tot 1,5 ton per hektaar tot ongeveer 5 ton per hektaar in Suid-Afrika. Beter genetika en beter bestuur benut warmer toestande sowel as water baie beter.

“Dit veroorsaak egter dat die landbou meer kwesbaar is omdat graanboere groot kostes aangaan om te bemes, die beste saad te plant en die beste bewerkings te doen. Die wisselvalligheid in veral reënvaltoestande bly steeds die grootste enkele faktor (saam met prys) wat winsgewendheid en volhoubaarheid bepaal omdat daar agtereenvolgende seisoene met swak toestande kan voorkom,” sê Van den Berg.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?