Klawer Wynkelder stel hul Vino Sacci bekend

Om wynbottels te vervoer terwyl jy met vakansie gaan of om saam te neem na ’n braai of piekniek, is gewoonlik ’n gevaarlike storie, veral as jy min pakplek het óf bekend is vir jou bottervingers. Klawer Wynkelder het egter met die perfekte oplossing vorendag gekom wat jou vakansie asook alledaagse wyn-ervaring meer gerieflik sal maak.

Op die laaste naweek van Oktober het Klawer Wynkelder die maand afgesluit met die bekendstelling van hul nuwe wynsakkies, genaamd Vino Sacci, wat Latyn is vir wynsakkie. Op Saterdag, 14 Oktober het Klawer Wynkelder by ’n konsert van Steve Hofmeyr by Bushman’s Cave op Clanwilliam die sakkies ten toon gestel en daar kon almal wat die konsert bygewoon het ook die lekker Vino Sacci geniet! Klawer Wynkelder het na afloop van die vertoning ’n kompetisie geloods waar hul aanhangers en die wyngemeenskap kon stem vir hul gunsteling naam.

Dié opwindende verpakking is behoorlik iets wat wynliefhebbers sal geniet! Elke sakkie bevat 375 ml wyn en is genoeg om twee ordentlike glase vol te maak. Die sakkies bevat Klawer Wyne se 2017 Merlot en Chenin Blanc.

“Hierdie konsep is PERFEK vir mense wat hier by ons kelder stop. Baie is op pad na staproetes, kampeer-oorde of is sommer maar net op die pad om ons land te verken en om verskeie redes is hierdie klein bietjie wyn in ’n sakkies ideaal,” sê Franci Nortje van Klawer Wynkelder.

Andries Blake, besturende direkteur van Klawer Wynkelder, is van mening dat die wynsakkies beslis ’n geriefliker verpakking is, in die opsig dat jy net twee glase wyn uit die sakkie kry en dat die sakkie nie so baie plek opneem nie.

“Klawer Wynkelder het eerste met die konsep vorendag gekom, wat die projek vir ons so besonders maak. Ons wil dit so gerieflik as moontlik vir ons kliënte maak,” verduidelik Blake.

Volgens Nortje is daar heelwat lekker voordele aan dié Vino Sacci’s: “Dit is maklik hanteerbaar en is klein genoeg om in enige gaatjie in jou tas of rugsak in te pas.”

Klawer Wynkelder is gerieflik geleë op die N7-roete net buite Klawer in die Namakwa Weskus. Hulle is ook die perfekte stop wanneer jy die Matzikama-streek besoek en bied besoekers ’n gratis wynproe asook die geleentheid om hul wye verskeidenheid wyne te koop en ook op hul lieflike grasperke te ontspan.

“Nog ’n voordeel van die Vino Sacci’s is dat dit net twee glasies wyn is, so vir iemand wat net ietsie saam met hul padkos, middagete of aandete wil drink, gaan hierdie handig gepas kom. Geen wyn word dan gemors nie!” sê Nortje.

“Die verpakking is ook geriefliker vir mense wat kleiner volumes wyn wil koop,” verduidelik Blake.

Volgens Blake verkoel die sakkies ook baie maklik en het dit ’n tuit wat maak dat die wyn maklik geskink kan word. Die sakkies het ook ’n prop wat die wynsakkie weer kan seël sodat jy dit kan bêre vir later.

“Die sakkies se uniekheid maak dit enig in sy soort!” sê Blake.

Die wynsakkies is beskikbaar by Klawer Wynkelder, teen R20 ’n sakkie, asook by uitgesoekte restaurante en winkels.

Vir meer oor Klawer Wynkelder besoek hul webblad by www.klawerwine.co.za of loer gerus na hul sosiale media profiele:

Facebook: @KlawerWine
Twitter: @KlawerWyn
Instagram: @KlawerWyn

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?