Jak de Priester stel nuwe enkelsnit bekend en vier 15 jaar met nuwe album!

Ná vyftien suksesvolle jare in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, het Jak de Priester beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie bekroonde Pretorianer met sy sielvolle stem, betekenisvolle lirieke, ritmiese musiek en vermaaklike verhoogpersoonlikheid, het oor die jare diep in sy ondersteuners se harte kom nesskop. Vandag is dié Sally Williams Nougat-sanger ’n gevestigde naam, met nege studio-albums, ’n kinderalbum- en DVD, ’n boek, ’n digbundel en verskeie verhoogproduksies op sy kerfstok. Hy het ook in 2012 televisieaanbieder by sy indrukwekkende CV gevoeg.

Ter viering van sy vol en suksesvolle loopbaan, het Jak onlangs ’n splinternuwe album, 15 JAAR, uitgereik, vol moet-hoor-snitte, wat luisteraars van begin tot einde sal bekoor. “Ek wou graag my vyftien jaar in die musiekwêreld met ’n album vier. My temalied is ‘15 Jaar Met Klavier En Kitaar’, so hierdie is ’n produk van hoe my vaardighede as liedjieskrywer oor die jare gevorder het,” vertel die sanger. “Die temas op die CD wissel tussen ons land en sy mense, kinders, vriendskap, ervaringe van gaste wat saam op ‘Reis na Gister’ was, liefde en nostalgie.”

Album nommer nege bestaan uit sewentien oorspronklike snitte, uit sy eie pen, wat sorgvuldig uitgesoek is om die sukses van sy loopbaan in ’n neutedop vas te vang. Buiten vir komiese nommertjies en pragtige liefdesliedjies, is daar ook opwindende samewerkings met kunstenaar soos Steve Hofmeyr, Dr Victor, Bianca Pelser, Koos Kombuis en Charl du Plessis (die pianis) ingesluit. Soen die Reën, saam met Steve Hofmeyr, is binne vier-en-twintig-uur na vrystelling deur 107 000 mense geluister op Vimeo en sosiale media het behoorlik gegons oor die twee sterre se emosionele duet. “Ek is baie trots op die emosie wat ek en Steve geskep het met ons liedjie, maar elke snit op die album het sy spesiale plek. ‘Rigtinglose Mense’ het ek saam met Koos Kombuis geskryf, ‘Boervrou’ is vir my ma, ‘Drakensberge Liefde’ vir my vrou en ‘Mika se Song’ vir my laatlam. Dit is vir my lekker om te sien watter impak my liedjies op die gehoor het tydens my vertonings,” sê hy.

Die nuutste enkelsnit, Reënboog oor Suid-Afrika, beloof om aan selfs die kieskeurigste vereistes te voldoen. Hierdie duet saam met die gewilde partytjiemusiekmaker, Dr Victor, is ’n goedvoeltreffer met ’n baie inspirerende boodskap. “Ek hoop die liedjie word goed ontvang, want die vibe is lekker en die boodskap positief. Dr Victor bring ook ’n lekker edge na die liedjie. Dit gaan oor plekke en ikone in Suid-Afrika… en ook oor die feit dat ons almal hou van eet, dans en speel… daarom moet ons die reënboog terugbring oor ons land… soos dit hoort… want op hierdie stadium is dit elke kleur vir homself,” verklap Jak, wat ook hierdie danssnit self geskryf het. ’n Musiekvideo van die treffer word beplan vir vroeg volgende jaar en hy toer ook tans met sy nuutste produksie, Jak de Priester – 15 Jaar Met Klavier En Kitaar.

Jak, wat in Parys in die Vrystaat grootgeword het, is al van kleins af doenig met musiek, die verhoog en liedjiesskryf. Sy loopbaan het in 2003 afgeskop, nadat hy die ATKV-Crescendo-kompetisie gewen het. Dit het hom die geleentheid gegee om sy eerste album, getiteld Sally Williams Nougat, op te neem wat ’n groot treffer met dieselfde naam opgelewer het. Hy het ook in daardie jaar ’n Geraas-toekenning ontvang vir Beste Nuweling. Sedert sy debuutalbum, het talle nommer een radiotreffers, toekennings, benoemings en suksesvolle albums gevolg, waaronder Sally Williams Nougat (2003), Strate Van My Hart (2004), Brooklyn ‘Poet’ (2005), Stellenbosch Lovesong (2007), Groen Mamba (2008), 16 Briewe Aan My Baby (2010), Die Liefde Los ’n Spoor (2011), N1 van my Hart (2012), Ek Reis Na Gister (2015) en ’n kinderalbum en -DVD, Myne, Myne, Myne (2014). Hy was ook te sien in verskeie verhoogproduksies soos Underground, Strate Is Nie Stom Nie, Nataniël and Friends, Net ’n Bietjie Liefde Vir Die Langpad, en vele meer.

Die ster is verder ook die skrywer en sanger van verskeie temaliedjies vir kykNET-televisiereekse, waaronder die gewilde sepie, Binnelanders, 10 uit 10 en Reis na Gister, waarvan hy ook die aanbieder is. Die reeks is tans in sy vyfde seisoen en het vir hom in 2015 ’n nominasie as Aanbieder van die Jaar besorg. Jak skryf in 2017 die temalied van die nuwe Afrikaanse fliek, Hoener Met Die Rooi Skoene en vier van sy liedjies is gebruik as deel van die lokettreffer, Semi-Soet, se klankbaan. Oor die jare het hy nie net die verhoog met gewilde name in die bedryf gedeel nie, maar ook by van die grootste feeste en konserte opgetree, waaronder Huisgenoot Skouspel, Afrikaans is Groot, Innibos Kunstefees, KKNK, en vele meer. Sy musiek is ook gewild oorsee en Sally Williams Nougat was op die Top 20 van ’n Engelandse radiostasie. Twee van sy liedjies is ook opgeneem in die nuwe FAK Sangbundel.

Musiek is egter nie die blondekop se enigste talent nie, want hy blink ook uit as digter en skrywer. Hy stel in 2005 sy eerste digbundel, Heuning in die Mond, vry, gevolg deur ’n boek boek, Brood, in 2010. Een van sy gedigte, Onsekerheid, is ook in 2009 ingesluit in die nuwe Afrikaanse Groot Verseboek. Die sanger het ook tussen 2011 en 2015 die rubriek, Pa se Stem, geskryf vir Baba & Kleuter.

Jak het nog baie planne vir die toekoms en hou daarvan om sy talent met ander kunstenaars s’n te kombineer. “My lewe en die wêreld waarin ons leef, inspireer my. Ek hou van goeie sangers, met ’n kunstige aanslag, soos Amy Winehouse. Sterre soos Johannes Kerkorrel, Amanda Strydom, Koos Kombuis ensovoorts het almal ’n invloed gehad op my eie musiekstyl. Ek geniet ook samewerkings, het al saam met Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Koos Kombuis en Nataniël gewerk, en sal nog graag kragte wou saamspan met Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Karen Zoid en nog baie ander,” gesels hy.

Die bedryf het vir hom baie geleer oor geduld, mislukking, stres, sukses en geloof, maar hy glo nog altyd dat musiek enigiets kan gesondmaak en hoop dat sy nuutste werk, luisteraars se lewens net so sal verhelder, soos die geel agtergrond van sy nuwe CD se buiteblad.

15 JAAR is ’n moet-hê-album vir elke Jak de Priester-aanhanger. Dit is ’n kombinasie van gevoelvolle hartsmusiek en opgewekte partytjiedeuntjies, waarsonder geen speellys volledig sal wees nie. Sy nuutste album en enkelsnit is nie net ’n duidelike bewys dat dié sangsensasie sy gehoor se belange op die hart dra nie, maar ook ’n juweel vol treffers wat nog vir baie jare oor die radio gehoor sal word.

Liedjies op die album:
Hey Christine
Reënboog oor Suid-Afrika met Dr Victor
Drakensberge Liefde
Rigtinglose Mense
Soen die Reën met Steve Hofmeyr
Alles Vir Liefde
As Is Verbrande Hout
Vriendskap se Water
Rose & Jack met Bianca Pelser
Kleinmond Gedig
Stuur Liefde Aan Ou Toks
Niemand Neem Hul Kwalik
Bo-Blink Boogie Woogie met Charl du Plessis
15 Jaar Met Klavier En Kitaar
Boervrou vir Ma
Mika se Song
Halleluja Kersfees
Ek Sny Dit Af

Sosiale media skakels:
Facebook: https://www.facebook.com/jakdepriester/
Twitter: @JakDePriester
Instagram: @jakdepriester
Webblad: www.jakdepriester.co.za

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?