Invincibles RFC hou toekenningsaand

Vrydagaand, 25 November het Invincibles Rugbyklub, Vredendal se rugbyklub, hul jaarlikse toekenningsaand by die Vredendal-Noord gemeenskapsaal gehou. Invincibles se A-span het vanjaar derde in die liga-kampioenskap opgeëindig en hul B-span was eerste in die liga.

Die aand is geopen deur Andrew Julies, voorsitter van Invincibles. Hy het begin om die span te bemoedig om die nuwe rugbyseisoen aan te durf met die gedagte om te wen

“Ek wil graag erkenning gee aan almal wat bygedra het tot die klub die afgelope jaar. Nie net die spelers nie, maar ook die toeskouers, mediese beamptes, afrigters en bestuurslede,” het Julies gesê.

Gasspreker, Randall Modiba, hoofafrigter van die Boland Kavaliers, het die span toegespreek en hulp aangebied vir die volgende seisoen.

“As almal saamstaan, kan ’n rugby-akademie in elke streek gestig word om afrigters, skeidsregters en spelers in die sport te bevorder,” het Modiba gesê.

Modiba het verder gesê dat hy bereid is om met elke wedstryd ’n talentsoeker uit te stuur om talent in die Matzikama-streek dop te hou en so hul rugby loopbaan te bevorder.

Met die oorhandiging van die toekennings het die A-span en B-span erkenning gekry deur elk ’n medalje en bekertjie te ontvang.

Onder die spelers wat die meeste toekennings ontvang het, het Cervin Job met drie toekennings weggeloop. Hy het toekennings vir speler van die jaar, beste agterlynspeler en meeste punte aangeteken in A-span ingepalm.

Colin Engelbrecht het weggeloop met die toekennings vir meeste drieë aangeteken (A-span) en spelers se speler van die jaar.

“Alle eer kom ons Hemelse Vader toe,” het Cameron Cloete, wat toekennings ontvang het vir meeste punte aangeteken (B-span) en agterspeler van die jaar (B-span), gesê.

Die sportman van die jaar is ook aangewys en Jan Steyn is met die toekenning vereer.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?