HSV hou boeresport en matrieks sê totsiens

Hoërskool Vredendal het op Woensdag, 11 Oktober hul jaarlikse boeresport-byeenkoms gehou om die leerders se gees op te bou, so teen die einde van die skooljaar. Die byeenkoms is op hul eie sportgronde aangebied met tipiese boeresport-aktiwiteite soos kruiwastoot, mieliespoeg, eier op lepel balanseer en nog meer soos ‘twister’, ‘touchies’ en monster-bou.

Daar het min of meer 10 spanne vir die dag se aktiwiteite ingeskryf en dit was hope pret!

“Dit was ’n baie lekker ervaring en dit was genotvol om deel te neem,” het Tania Roux, graad 10-leerder van Hoërskool Vredendal gesê.

Die span wat die meeste punte gekry het was die Twinklestars en die span met die meeste gees was TmT.

“Dit was besonders lekker en sal graag weer wil doen,” het Tiaan Kruger, ook ’n graad-10 leerder van Hoërskool Vredendal gesê.

HSV Matrix sê totsiens

Op Donderdag, 12 Oktober het Hoërskool Vredendal se matriekleerders totsiens gesê met ’n paar wyse woorde van dominee Anton Verwey en mev. Alta Du Toit. Daar is ook ’n paar toesprake deur matriekleerders gelewer. Die toesprake het oor die onderwysers gegaan het, oor die impak wat hulle op die leerders se skoolloopbaan gehad het en die herinneringe wat nooit vergeet sal word nie.

Aan die einde van hierdie funksie is die Mx’17 vlag bekend gestel en daarna het die res van die skool om die klok gestaan en ’n paadjie gemaak vir die matrieks om die klok te lui wat dien as totsiens sê. Dit is ’n nuwe tradisie wat by Hoërskool Vredendal begin het.

Dit was ’n emosionele dag vir die totsiens sê van onderwysers, onderwyseresse en vriende maar matrieks moes ook gereed maak vir die matriekafskeid wat op Vrydag, 13 Oktober plaasgevind het. Die eindeksamen lê nou voor.

 

      

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?