Hortgro belê miljoene rande in studente

Hortgro het die afgelope 14 jaar altesame R35 miljoen aan beurse bestee in ’n poging om die werksmag wat noodsaaklik is vir die sagtevrugtebedryf, te verseker. Hortgro het vanjaar alleen R3,7 miljoen in beurse en opleiding bestee.

Dié bedrag word onder universiteitstudente verdeel wat aan die Universiteit Stellenbosch, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, Elsenburg en die universiteite van Limpopo, Pretoria en die Vrystaat studeer.


Mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, sê volgens ‘n verklaring dat opgeleide werknemers noodsaaklik is om die bedryf van R11 miljard verder te laat groei.

“Die landbou, en veral die sagtevrugtebedryf, dra baie by tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP). Dié bedryf verskaf ook werk aan derduisende mense. Ons is daarom van mening dat dit nodig is om ondersteuning te bied in die ontdekking en opleiding van die beste ‘breins’ en die ontwikkeling van ’n sterk arbeidsmag.”

Tegnologie
Rabe het ook die belangrikheid van vooruitgang met tegnologie en die ontwikkeling van mense beklemtoon.

“Daar is nog harde werk wat gedoen moet word om jongmense te oortuig dat ’n loopbaan in die landbou vir hulle voordelig sal wees. Die tuinbou- en tegnologiebedryf is besig om te ontwikkel en daar lê nog talle geleenthede in die volgende 20 tot 30 jaar voor.”

Volgens dr. Xolani Siboza, Hortgro Science se vrugteproduksie-navorser, is daar ’n skaarsheid aan opgeleide kundiges in dié bedryf.

“Die huidige kundiges in die bedryf is al ’n ruk lank in die spel. Ons benodig nuwe energie in die veld, jongmense wat kan leiding neem om die bedryf te hernu en uit te brei.”

Hortgro se beursskema is ’n gesamentlike onderneming tussen die kern-en steenvrugtebedrywe, Agriseta en die Sagtevrugte Ontwikkelingstrust.
Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?