Is hierdie die rede waarom jy nie gewig verloor nie?

Dit is ’n nuwe jaar en meeste van ons probeer opnuut om ’n gesonde lewenstyl aan te pak en die ekstra feestyd kilo’s af te skud. Indien jy egter reeds aktief leef en gesond eet sonder om resultate te sien, is daar miskien ’n ander probleem wat jy eers moet aanspreek. Liezel Malherbe van 9Lives.co.za vertel meer.

In ’n artikel op Gwyneth Paltrow se leefstyl webblad Goop verduidelik dr. Sara Gottfried dat ’n hormonale wanbalans ’n groot rol kan speel in gewigsverlies. Die streshormoon kortisol is veral ’n moeilikheidmaker.

“Jou liggaam maak kortisol wanneer jy gespanne is,” verduidelik Gottfried, “maar meeste van ons is heeltyd angstig en daarom is ons kortisolvlakke ongesond hoog. Hoë of ongebalanseerde kortisolvlakke kan oor tyd jou gemoed, slaap en gewig beïnvloed.”

Jou liggaam se reaksie op stres is daar om jou te beskerm in gevaarlike omstandighede. Adrenalien en kortisol word afgeskei om jou te help as jy moet veg of vlug van die bedreiging. Kortisol verhoog ook suiker (glukose) in jou bloed sodat jy energie sal hê, en dit onderdruk onbelangrike liggaamsprosesse vir daai spesifieke oomblik, onder meer jou verteringstelsel.

Hierdie proses is baie belangrik wanneer mens in lewensgevaar is, maar meeste van ons lewe daagliks met angs en spanning en het daarom voortdurend verhoogde kortisolvlakke. Volgens mayoclinic.org kan oortollige kortisol en ander streshormone bydra tot probleme met jou gewig, vertering en slaap, en kan dit hoofpyn en hartprobleme veroorsaak.

Dr. Gottfried stel joga of meditasie voor om spanning te verlig. Volgens haar moet jy ook enige konflik met mense in jou lewe probeer oplos, jou dieet aanpas om meer vitamiene B en Omega-3 te bevat, en die inname van suiker, koffie en alkohol verminder. Gottfried waarsku ook teen oefening wat kortisolvlakke verhoog soos CrossFit of langafstand-draf omdat hierdie jou liggaam onder selfs meer druk kan plaas.

Hoe jy oor jou gewig dink speel ook ’n rol, en jy kan dalk selfs jouself dunner dink. Volgens dr. Mark Hyman, die mediese direkteur van die Cleveland Kliniek vir Funksionele Medisyne, kan “stressvolle gedagtes jou metaboliese prosesse beinvloed en veroorsaak dat jy gewig optel en insulien-weerstandig raak.” Hy verduidelik verder dat langdurige angs jou bloedsuiker en bloeddruk opstoot, en ook jou cholesterol en vet om die maag beinvloed.

Wat kan jy doen?

Probeer joga en meditasie. Dit klink dalk soos iets wat ’n hippie sou doen, maar dit help om deur negatiewe gevoelens te dink en dan eerder te fokus op die dinge in jou lewe waarvoor jy dankbaar is en wat jou gelukkig maak.

Oefen reg. Wissel jou draf en HIIT-oefensessies af met joga en pilates.

Sny drank uit. Alkohol kan streshormone stimuleer. As jy drink om jou spanning te verminder is dit dalk eerder wys om ’n ander uitlaatklep te probeer soos oefening.

Slaap. Probeer tussen 7 en 9 ure per aand slaap om spanning te verminder. Probeer om op dieselfde tye te gaan slaap en wakker te word, selfs oor naweke. Dit help ook om stimulante in die aand te vermy. Sit skerms soos jou televisie en selfoon twee ure voor jy gaan slaap af, moenie te na aan slapenstyd eet nie, en moet ook nie te laat in die aande oefen nie.

Eet reg. Maar seker jou dieet bevat genoeg Omega-3 (vetterige vis, neute, sade en eiergeel), wat help om inflammasie te verminder. Eet ook genoeg vitamiene B (van donkergroen groente, vetterige vis, neute, peulgewasse en volgraankos), asook vitamiene C, wat help om streshormone te beheer. Kosse ryk aan vitamiene C sluit in sitrusvrugte, koejawels, rooi- en groenpepers, kool en aarbeie.

Omring jouself met gesonde verhoudings. Die ondersteuning van vriende en familie maak ’n
verskil. Studies wys dat mense wat alleen voel of met ’n lae selfbeeld sukkel, hoër kortisolvlakke het. Maak daarom tyd vir die mense in jou lewe, en probeer om konflik in jou lewe op te los.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?