Hermanus Bienas – agriwerker van die jaar

Hermanus Bienas, inwoner van Vredendal en ook assistent-bestuurder by die Kys-kwekery op Vredendal, is vanjaar aangewys as die wenner van die 2017 Wes-Kaapse Prestige Agri-toekennig. Hierdie spoggeleentheid het op Saterdag, 4 November by die Nederburg Wynlandgoed in die Paarl plaasgevind.

Bienas het gesê sy oorwinning het hom gemotiveer om ander in sy gemeenskap op te hef.

“Hierdie oorwinning motiveer my om by te dra tot die oplossing van die moeilike ekonomiese omstandighede (wat werknemers in die sektor in die gesig staar), wat ons soms hopeloos kan laat voel.”

Volgens Alan Winde, minister van ekonomiese geleenthede, is hy veral aangemoedig deurdat Hermanus hierdie prestasie wil gebruik om die lewens van sy medewerkers in die landbou te verbeter.

“Dit is ’n prioriteit vir die Wes-Kaapse regering. Vorige wenners deel ons verbintenis om te verseker dat hierdie sektor inwoners hul doelwitte kan bereik. Met hierdie inisiatief wil ons agri-professionele persone koppel aan ’n ondersteuningsnetwerk sodat hulle hul potensiaal kan bereik,” het Winde gesê.

Die Wes-Kaapse Prestige Landboutoekennings (WKPLT) het ontstaan om erkenning te gee aan die waardevolle en belangrike bydrae wat landbouwerkers tot die volhoubaarheid en groei van die landbousektor in die Wes-Kaap en Suid-Afrika lewer. Die visie van die Wes-Kaapse Departement van Landbou is om die kompetisie eers provinsiaal en uiteindelik nasionaal aan te bied.

Bienas is op Woensdag, 30 Augustus as die Olifantsrivier se landbouwerker van die jaar aangewys tydens ’n gesellige prysuitdelingsfunksie by Die Keldery, waarna hy na die provinsiale kompetisie deurgedring het. Die kompetisie word geborg deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Shoprite.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?