Goeie nuus: Laer brandstofpryse in Junie

Die huidige ru-olieprys en versterking van die rand het ’n gunstige effek op Suid-Afrika se brandstofpryse en die pryse van brandstof sal na verwagting in Junie daal.

Volgens die jongste inligting van die Departement van Energie kan die prys van petrol 93 (ULP en LRP) in Gauteng op Woensdag (7 Junie 2017) moontlik met 24,4 sent per liter en die prys van diesel (met ’n swaelinhoud van 0,005%) moontlik met 19,2 sent per liter daal.

Ru-olie
Die belangrikste redes vir die verwagte prysdalings kan hoofsaaklik aan die daling in die ru-olieprys tot bykans $48 per vat aan die begin van die maand toegeskryf word. Die dalings kon selfs groter gewees het, maar die ru-olieprys het daarna weer vinnig gestyg tot $54,45 per vat, waarteen dit Woensdag, 24 Mei, verhandel het.

Die prys het gestyg in afwagting van ’n verlenging van die ooreenkoms tussen die grootste olieproduserende lande om hulle produksie verder te verlaag. Die besluit hieroor sal Donderdag, 25 Mei, deur die Organisasie van Petroleumuitvoerlande in Wenen, Switserland geneem word. Die verwagting is dat die produksieverlaging met minstens nege maande tot in 2018 verleng sal word.

Wisselkoers
Ten spyte van die styging in die ru-olieprys, was die gemiddelde internasionale pryse van petroleumprodukte hierdie maand steeds laer as in April, wat dalings van 17 sent per liter in die petrolprys en 11,9 sent per liter in die dieselprys tot gevolg gehad het.

Die versterking in die wisselkoers tot onder R13 teenoor die VSA-dollar het verdere verlagings van 7,4 sent per liter in die petrolprys en 7,3 sent per liter in die dieselprys vir volgende maand te weeg gebring.

Die finale prysveranderings sal deur die Minister van Energie bekend gemaak word.

Bron: Departement van Energie

* Fanie Brink is ’n onafhanklike landbou-ekonoom.

Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?