Georic Lomas: die singende hartebreker

Georic Lomas het in 2013 bekendheid as Morné in die musiekfliek, As Jy Sing, verwerf. Hý is ons Musiekster van die week en ons het by hom gaan aanklop om uit te vind waarmee hy tans besig is.

Jou debuutalbum is uitgereik. Hoe voel jy daaroor en wat is mense se reaksie op die album?

Dis ’n droom wat bewaarheid is en ek is ontsettend trots op dié album. Hy is nou al ’n paar maande beskikbaar en die reaksie op die album tot dusvêr is ongelooflik. Twee enkelsnitte van die album het al die nommer 1-posisie op radiostasies bereik en terugvoer wat ek van diegene wat die album gekoop het ontvang, is dat hulle gaande daaroor is.

Wanneer het jy besef dat musiek jou passie is en wat was jou stepping stone tot die musiekbedryf?

Ek het op ’n baie jong ouderdom besef dat ek baie van musiek hou en op sewejarige ouderdom in eisteddfods en kompetisies begin sing, maar dit was eers op 14 jaar, toe ek deur Johan Vorster by ’n konsert raakgesien is, wat alles vir my begin het.

Na wie kyk jy op in die musiekbedryf?

Daar is verskeie kunstenaars na wie ek in dié bedryf opkyk, maar ek sou Bobby van Jaarsveld uitsonder omdat hy ook op ’n jong ouderdom met sy loopbaan begin het en steeds soveel jare later so groot in die mark is. Hy stel ook altyd ’n goeie voorbeeld vir sy aanhangers.

Wat is jou grootste droom?

My grootste droom is om deur musiek ’n positiewe verskil in mense se lewens te maak.

Wat is jou grootste uitdaging in die bedryf?

Ek dink die grootste uitdaging in die musiekbedryf is dat daar altyd mense is wat nie hou van wat jy doen nie, maar dit is belangrik om gefokus te bly en te doen waarin jy glo.

Waar sien jy jouself oor tien jaar?

Ek sien myself oor tien jaar hopelik steeds in dié bedryf en hoop om dan my eie platemaatskappy te besit.

As jy saam met enigiemand ’n duet kon doen, wie sal dit wees en hoekom?

Beslis Die Heuwels Fantasties, ’n groep wie se musiek ek van kleintyd luister en gewild is onder vandag se jongmense.

Wat beplan jy op die oomblik, is daar iets waarna jou aanhangers kan uitsien?

Ons is besig om aan ’n aantal goed te werk, waaronder ’n nuwe musiekvideo. My aanhangers kan gerus my sosiale mediaplatforms dophou om op hoogte te bly van alles wat gebeur.

Wat is jou raad aan jongmense wat droom om in die bedryf te wees?

Ek dink die belangrikste is om te doen waarvoor jy lief is. Ander mense gaan vir jou sê dat dit nie moontlik is nie, maar as dit iets is wat jy wil doen en jy het die deursettingsvermoë, gaan jy suksesvol wees.  

Wat is jou ontvlugting?

Ek geniet dit om musiek te luister wanneer ek bietjie wil wegbreek, dit bring vir my kalmte.

Hou gerus dié week ons sosiale mediaplatforms dop vir meer oor Georic.

Berig verskaf deur Sterre. Vir nog opwindende nuus en artikels, besoek Sterre se webtuiste by sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?