Fruits du Sud en BKB in Weskus bekend gestel

Fruits du Sud, rosyntjie-uitvoermaatskappy, en bekende landboumaatskappy BKB het hul voetspoor in die Wes-Kaap uitgebrei deur ’n tak op Vredendal te open. Hierdie nuwe ontwikkeling is op 26 Oktober tydens ’n funksie by Letsatsi Lodge op Vanrhynsdorp bekend gemaak. Nagenoeg 170 produsente en gaste vanuit die Oranjerivier-omgewing, sowel as plaaslike produsente het die geleentheid bygewoon.

Oranjerivier-produsent, ds. Johannes Loubser, het die geleentheid geopen en het met groot lof van Fruits du Sud gepraat.

Die oopdeur-benadering en werkswyse van Johannes van Niekerk, besturende direkteur van Fruits du Sud, en sy span boesem vertroue in by produsente en hulle is positief oor die enorme groei wat die maatskappy in die laaste 6 jaar getoon het, van 700 ton in 2010 tot 13500 ton ingeneem in 2017. In die laaste seisoen was daar ’n 42% groei in teenstelling met die 2016 oes.

Dr. Johan van Zyl, voorsitter van Sanlam en direkteur van BKB was die gasspreker by die geleentheid. Hy het gepraat oor die rol van landbou in die land en ook met vertroue bevestig dat ten spyte van negatiwiteit in ons ekonomie en die landbousektor, daar nog baie positiewe groei en geleenthede is.

“Ons sien die positiwiteit deurkom, ons moet net nie handdoek ingooi nie,” het Van Zyl tydens sy toespraak gesê en bygevoeg dat Suid-Afrikaners en produsente moed moet hou.

Volgens Van Zyl belê groot internasionale maatskappye steeds in Suid-Afrikaanse besighede, en die landbou-sektor maak ’n groot deel van beide Sanlam, en African Rainbow Capital, waarvan hy ook direkteur is, se beleggings uit.

Fruits du Sud se passie en visie vir die landbou sorg vir inspirasie in ’n tyd wat die Weskus in ’n benarde droogte-situasie is. Volgens Van Niekerk dui dit juis op Fruits du Sud en BKB se erns met en toewyding tot landbou en hulle geloof dat daar groot geleenthede in die Weskus is om droogdruiwe verder te vestig en te ontwikkel.

Fruits du Sud is in 2002 by Kanoneiland naby Upington gestig. Hulle het topgehalte produksie-geriewe wat verseker dat die rosyntjies aan die hoogste gehaltestandaarde voldoen. Vicus de Jager is aangestel as die Weskus-streek se werwingskonsultant en hy kan gekontak word vir enige verdere navrae by vicusdj@fruitsdusud.com.

  

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?