Eden Classens werk hard om sy doel te bereik

Eden Classens is bekend vir sy rol as Justin in die sepie, Suidooster. Sy liefde vir toneelspel het reeds vroeg in sy lewe ontstaan: “My ma het my wel op die pad gesit van ’n jong ouderdom. Van toe af was dit net vorentoe en die drome het begin en nooit geëindig nie.”

Hy het grootgeword in die Natalse dorp, Newcastle, en het op vyftienjarige ouderdom na Kemptonpark verhuis. Hy het sy BA-graad by Afda in Kaapstad voltooi en het selfs ’n diploma in rolspel by die New York Film Academy in New York verwerf.

Tussen Eden en sy Suidooster-karakter, Justin, is daar minimale ooreenkomste en een is dat albei ’n groot hart het en graag omgee vir ander mense. Maar die naïewe en “dom” kant van Justin is glad nie wie Eden is nie: “Ek dink gewoonlik mooi voor ek praat, en Justin praat eers en dink dalk later. Ek sal ook sê my intelligensie is op ’n hoër standaard. Haha.”

Eden oefen graag en hou daarvan om ’n gesonde leefstyl te handhaaf: “Ek eet baie gesond, oefen gereeld, slaap genoeg en lag baie.” Hy sê dit help om doelwitte vir jouself te stel en om natuurlik hard te werk om dit te bereik. Hy speel ook graag kitaar.

Werksgewys is sy rolmodel Leonardo Di Caprio en hy sal graag saam hom wil koffie drink om te hoor hoe hy vir sy rolle voorberei en watter proses hy volg. Op ’n persoonlike vlak kyk hy op na Nelson Mandela en ook sy pa.

Eden se gunsteling aanhaling is die volgende deur die akteur Dwayne Johnson: “Be humble, be hungry, and always be the hardest worker in the room.”

Volg Suidooster Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET, kanaal 144.

Berig verskaf deur sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?