Droogtehulp: Bedrogondersoek gevra

Te midde van die ergste droogte in dekades, het grootskaalse bedrog met droogtehulp daartoe gelei dat Agri SA die Openbare Beskermer sowel as die Ouditeur-generaal gevra het om ondersoek in te stel.

Dit sluit forensiese ondersoeke in na die rampfondse van die Departemente van Landbou, Bosbou en Visserye, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sowel as Water en Sanitasie.

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê een diensverskaffer in die Noord-Kaap het R7 miljoen wins in ’n maand uit die rampfonds gemaak. “Hy het kort daarna vir hom ’n luukse Bentley-motor gekoop.”

‘Skrikwekkend’
Van die R212 miljoen wat in die bykomende begroting vir droogtehulp goedgekeur is, het kommersiële boere (behalwe vir ’n bietjie hulp in die Wes-Kaap) nie ’n sent gesien nie, sê Van Zyl.

“Ons het probeer kyk wat van die geld geword het en dit is skrikwekkend. Ons werk in die bedryf maar het nie ’n enkele diensverskaffer geken wat gebruik is nie. Ons is ook nie gevra om vir iets te tender nie.”

“Agri SA het intussen ’n risiko-bestuurslessenaar saam met Senwes op die been gebring om beter voorbereid te wees teen moontlike rampe. Dit sluit risiko’s in soos politieke verwikkelinge, droogte, vloede en kommandowurms. Een ding wat ons geleer het uit die droogte is dat die regering nie in staat is om te help nie. Hulle was in elke vergadering betrokke, maar totaal onbekwaam om werklik te help.”

Senwes en Agri SA
Met die R17 miljoen wat vir Agri SA en Senwes se hulpfonds ingesamel is, is meer as 12 000 kommersiële boere en 6 000 kleinboere gehelp. Hulp met water en kos is ook in 187 dorpe gelewer en 12 600 ton voer is geskenk.

Van Zyl se vrou, dr. Annelize Geldenhuys, het op haar beurt die Hoop Gras-projek bedryf waardeur die publiek gevra is om gesnyde gras na aflaaipunte te neem waar dit gedroog, verpak of verpil is. Satellietpunte in verskillende provinsies is ook opgestel, vanwaar die voer versprei is. Op dié manier is 560 ton ruvoer na 406 boere versprei.

“Ons het geglo die droogte was nie net boere se probleem nie maar elkeen in die land se probleem. Dit is die moeite werd om te veg vir ‘n bedryf wat mens van voedsel voorsien,” sê sy.

Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?