Droogte in die Wes-Kaap

Die Wes-Kaap beleef tans ’n ernstige droogte en het ’n groot watertekort. Ons almal weet water  is ʼn baie skaars hulpbron veral in Suid-Afrika. As ons nie water bespaar nie en nie samewerking gee nie, kan dit lei tot erge droogte. Dit is baie belangrik dat ons water moet bespaar en waterwys moet wees.


Volgens die weeklikse staat van reservoirs se verslag van die Departement van Water en Sanitasie soos op 4 September 2017, was damvlakke in die Wes-Kaap slegs 34% vol. Volgens die munisipaliteite van die Wes-Kaap het verbruik te hoog gebly en is streng maatreëls ingestel om hierdie situasie te hanteer.

Die gemiddelde damvlakke in Gauteng, Noord-Kaap en Noordwes is meer as 80% vol. Damme in die Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga is tussen 74% en 78% vol, terwyl damme in die Oos-Kaap (57%) en KwaZulu-Natal (51%) meer as halfvol is.

Die droogte in die Wes-Kaap is tans erg en volgens Netwerk24 is daar vrese dat graanoeste kan misluk en dat boere verbied kan word om water te gebruik vir besproeiing. Dit kan ook lei tot werkverlies in die Wes-Kaap.

Clanwilliam-dam is ook een van die damme wat ʼn tekort aan water het. Die dam was in 2016 100.8 % vol water en vanjaar is daar slegs 38.4% water in die dam.

Pieter van Aarde, produksiebestuurder by Klawer Wynkelder op Klawer, is van mening dat die droogte almal aan die knyptang het, en dat almal benoud is.  

“Ons het nou al uit die rivier gepomp om aan te vul en glo dat dit wel sal reën,” sê van Aarde.

Volgens Sybrand Teubes van Teubes Wyne was die winter vanjaar heelwat later en daarom hoop hy dat die reën ook later sal opdaag.

“Die wingerd vereis goeie besproeiing in die winter en hierdie winter was dit taamlik droog. Die boere wat toegang het tot die Olifantsrivier pomp nou water uit die rivier – wat vars water het as gevolg van invloeiing vanaf Sutherland en Citrusdal wat die afgelope tyd goeie reën gehad,” sê Teubes.

Hier is wenke vir waterbesparing:

  • Plant plante wat min water benodig.
  • Gebruik ’n sprinkelstelsel wat self aan- en afskakel.
  • Maak seker dat waterpype nie lek nie en dat daar geen ander lekkasies op jou erf is nie.
  • Sit ’n baksteen/bottel vol sand in die toiletbak.
  • Moenie die toilet onnodig spoel nie.
  • Neem eerder ’n stort as ’n bad.
  • Plaas ’n emmer in jou stort om die water op te vang, jy kan die water gebruik om jou toilet te spoel of om jou plante nat te gooi.
  • Moenie die kraan oop los terwyl jy tande borsel nie.
  • Moenie te veel badwater in die bad laat loop nie en gesinslede kan badwater deel.
  • Gebruik ook die badwater om plante nat te gooi of om jou toilet mee te spoel.
  • Vul die ketel met net genoeg water.
  • Pak die skottelgoedwasser en wasmasjien vól voordat jy was.
  • Stel besproeiing só dat dit slegs die plante nat maak.
  • Gooi gras nat met water wat uit geute opgevang is.
  • Maak die tuin vroegoggend of namiddag nat, nie tussen 10:00 en 15:00 nie.
  • Maak seker jou swembadpomp lek nie water nie.
  • Moenie tuinslange oop vergeet nie.
  • Was jou motor op die gras en gebruik ’n emmer.
  • Rus die tuinslang se punt toe met ’n afsluitspuitkop.
  • Kies ’n watervriendelike tuin met baie klippe en minder plante.

Doen jou deel en bespaar water en moedig ander ook aan om dit te doen en dra by om nie die droogte in Suid-Afrika te vererger nie.

Vir meer inligting oor die vlakke van die Clanwilliam-dam en ander damme, besoek die Departement van Waterwese en Sanitasie by www.dwa.gov.za/Hydrology/Weekly/Weekly.pdf of besoek departement Wes-Kaapse plaaslike regering by www.elsenburg.com/agri-tools/western-cape-dam-levels

     

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?