Diepgebraaide uielelie

Wanneer die wolke dreigend saampak, maar die reën wegbly en die drukkende hitte jou wil verswelg, is hierdie uielelie net die regte medisyne.

Bestanddele:

1 groterige ui
1 koppie koekmeelblom
1 eetlepel gerookte paprika
1 teelepel droë tiemie
1 teelepel droë origanum
½ teelepel rooipeper
1 teelepel fyn komyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 koppie melk
2 eiers
olie vir diepbraai

Metode:

Sny die ui aan die kant waar dit ’n puntjie maak, skil die ui, maar hou die onderkant heel. Draai die ui op sy snykant en begin ’n entjie van die knoetskant af sodat die snytjies vas aan die basis bly en sny regdeur in ongeveer 16 skyfies.

Draai die ui om en maak die blaartjies versigtig effens los sodat die ui ’n mooi lelie vorm. Meng die koekmeelblom met die paprika, tiemie, origanum, rooipeper, komyn en sout en peper. Plaas die ui in ’n houertjie waarin dit net-net pas en sprinkel die meelmengsel bo-oor. Sorg dat die mengsel die binneblaartjies ook bereik.

Klits die melk en eiers saam en doop die uielelie versigtig daarin en sprinkel weer met die meelmengsel. Skud die oortollige meel af en plaas die uielelie in die yskas terwyl jy die olie in ’n diep kastrol verhit. (Indien jy ’n elektriese diepbraaier het, verhit die olie tot 180⁰C.)

Plaas die uielelie met die gesnyde kant na onder in ’n draadmandjie en braai vir 3 minute tot goudbruin, draai om en herhaal 3 minute aan die onderkant.
Bedien met ’n lekker tuisgemaakte soetrissiesous en slaai.

Wenk: Moenie die meelmengels en die eierdoopmengsel vermors nie. Sny die korsies van 2 snye brood af, plaas ’n snytjie kaas tussenin, doop in die eiermengsel en bedek dit met die meelmengsel. Diepbraai dit in dieselfde olie waarin jy die uielelie gebraai het. Moenie skrik vir al die olie nie – dis verbasend hoe min olie die kos absorbeer wanneer die olie die regte temperatuur is.
Bron: Toorkombuis

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?