Die nagmerrie van nierstene

“Ek het gedink ek gaan dood!” “Dis erger as kindergeboorte!” Dis maar twee beskrywings van hoe seer nierstene is. Meer as ’n halfmiljoen mense besoek jaarliks die noodafdelings van hospitale met niersteenprobleme en na raming sal een uit tien mense een of ander tyd in hul lewe ’n niersteen hê. Omtrent ’n kwart van mense wat nierstene kry, het ’n familiegeskiedenis daarvan.

 

Wat is ‘n niersteen?

 

’n Niersteen is ’n harde voorwerp wat van die chemikalieë in urine gevorm word. Urine het verskeie afvalstowwe wat daarin opgelos is. As daar te veel afvalstowwe in te min vloeistof is, begin kristalle vorm. Die kristalle trek ander elemente aan en dit pak saam en word al groter, tensy dit saam met die urine uitgeskei word.

Gewoonlik word hierdie chemikalieë deur die niere geëlimineer. In die meeste gevalle sal genoeg vloeistof dit uitspoel of sal ander chemikalieë in die urine voorkom dat ’n steen in die eerste plek vorm.

Nadat die steen gevorm is, kan dit in die nier bly of deur die nierbuise na die ureter beweeg. Soms kom jy nie eers agter dat klein steentjies saam met die urine uitgeskei word nie. Nierstene wat nie beweeg nie, kan egter maak dat urine in die nier, ureter, blaas of uretra ophoop en veroorsaak dan die ontsettende pyn.

Let daarop dat daar verskillende soorte nierstene is. Net jou dokter kan dit identifiseer en jou daarvolgens help om jou lewenstyl aan te pas.

 

Simptome

 

Sommige nierstene is so groot soos ’n sandkorrel, maar dit kan tot so groot soos ’n gholfbal word. Hoe groter die steen, hoe duideliker sal die volgende simptome wees: n Erge pyn aan weerskante van die laerug. n Konstante vae pyn of maagpyn.

 

  • Bloed in die urine.
  • Naarheid en braking.
  • Koors.
  • Urine wat sleg ruik of troebel voorkom.

 

Die niersteen word seer wanneer dit irritasie veroorsaak of ’n blokkasie veroorsaak. Dit bou op tot erge pyn. In die meeste gevalle word die niersteen uiteindelik uitgeskei sonder om te veel skade te veroorsaak, maar dit gaan met geweldige pyn gepaard. Pynstillers kan vir klein stene gebruik word. Vir groter stene is mediese ingryping nodig.

 

Gaan dokter toe as jy vermoed jy het nierstene. Jy kan baie water drink om die steen te probeer uitspoel. Die dokter sal op die nodige behandeling besluit en ook probeer vasstel wat die oorsaak is sodat jy dit kan voorkom.

 

Nierstene verhoog jou kanse om chroniese niersiektes te ontwikkel. As jy eers een steen gehad het, het jy 50-70% kans om binne vyf tot sewe jaar nog een te kry.

 

Die eerste ding wat jy kan doen, is om meer water te drink om jou urine minder gekonsentreerd te maak.

 

Moontlike oorsake:

 

Nierstene kom al van die vroegste tye af voor. Wetenskaplikes het al nierstene in ’n 7 000 jaar oue Egiptiese mummie gekry.

Van die oorsake sluit in: te min water, te veel of te min oefening, oorgewig, gewigsverliesoperasies of om kos met te veel sout of suiker te eet. Infeksies en ’n familiegeskiedenis kan dit vir party mense vererger.

Natuurlike pynverligting van nierstene

 

Gebruik warm of koue kompresse op die plek waar jy pyn ervaar om die pyn te help verlig. Die meeste mense verkies hitte, maar die verdowende uitwerking van ys of koue help vir ander.

 

  • Beweeg rond om die beweging van die steen aan te help. Vir sommige mense help die beweging ook vir die pyn.
  • Rus in ’n halfregop posisie met kussings op die niere (as jy daar pyn het). As jy plat lê, kan dit die pyn vererger en dit moeiliker vir die steen maak om te beweeg. Drink tee gemaak van perdeblom (dandelion) se wortel. Vra by jou gesondheidswinkel daarvoor.
  • Probeer kruiekure. Sekere kruie werk soos diuretikums, wat die irritasie in die urienweë verlig en die pyn verlig. Probeer aloe vera-sap en jenewerbessies (juniper).
  • Wend ’n kasteroliepak twee tot drie keer per dag oor die pynlike gedeelte aan.
  • Drink ’n drankie van beet-wortel-en-komkommer- sap.
  • Papaja voorkom glo die vorming van nierstene.
  • Drink kamilletee vir gesonde niere.

Hoe kan jy dit probeer voorkom?

 

Die eerste ding wat jy kan doen, is om meer water te drink om jou urine minder gekonsentreerd te maak sodat dit minder afvalstowwe bevat. Jou urine moet liggeel wees. Hoe donkerder jou urine, hoe meer gekonsentreerd is dit. Water is ook beslis beter as koeldrank, koffie of tee. As jy oefen of dit warm is, moet jy altyd meer water drink.

 

Verminder jou soutinname. Lees kosetikette. Blikkies kos, verwerkte kos, bros skyfies en geprosesseerde kaas kan baie sout (natrium) bevat. Jou soutinname behoort net 2 of 3 gram per dag te wees.

 

Probeer gewig verloor as jy oorgewig is, maar moenie op ’n hoëproteïendieet gaan nie, want dit kan die probleem vererger. Daar is ’n regstreekse verband tussen nierstene en die hoeveelheid

proteïen wat geëet word. Proteïen is geneig om die uriensuur, kalsium en fosfor in die urine te verhoog. Proteïen moet deel van ’n gebalanseerde dieet uitmaak.

 

Meer as 90% van alle nierstene bestaan uit kalsium of kalsiumprodukte. As jou dokter vasstel dat jou niersteen hoofsaaklik uit kalsium bestaan, moet jy op jou kalsiuminname let. Moenie kalsiumaanvullings drink as dit nie regtig nodig is nie. Vra jou dokter hieroor. Let ook op die hoeveelheid kalsiumryke kos wat jy inneem, soos melk, kaas en botter. Jy hoef dit egter nie heeltemal uit te skakel nie.

 

Sekere maagmedisyne bevat baie kalsium. As jy dus met nierstene sukkel, moet jy eers kyk of die teensuurmiddel wat jy gebruik, nie ’n kalsiumbasis het nie.

 

Ongeveer 60% van nierstene is kalsiumoksalaatstene. Die meeste nierstene word gevorm wanneer oksalaat (’n neweproduk van sekere kosse soos boontjies, bloubessies, seldery, groen soetrissies, aarbeie, murgpampoentjies, tee, rabarber, spinasie, beet, grondbone, sjokolade en patats) met kalsium verbind as urine in die niere gevorm word. Wanneer alles in jou liggaam reg werk, word die oksalaat wat jy inneem, met die eet van bepaalde groente en vrugte uitgeskei.

Wanneer jy kalsiumoksalaatstene kry, werk alles duidelik nie reg nie en moet jy bogenoemde kosse in jou dieet beperk. Oksalaat- en kalsiumvlakke verhoog wanneer die liggaam nie genoeg vloeistof inkry nie en te veel sout bevat.

 

Vitamien A is noodsaaklik om die voering van die urienweë in ’n goeie toestand te hou en om die vorming van nierstene te voorkom. Jy moet 5 000 internasionale eenhede (ADT) vitamien A per dag eet. Dis nie te moeilik nie, want een porsie gekookte wortels verskaf 10 055 eenhede. Ander kos ryk aan vitamien A sluit appelkose, broccoli, spanspek, pampoen, patats en beeslewer in. Moet egter nie vitamien A-aanvullings sonder jou dokter se toestemming neem nie, want jy kan te veel vitamien A inkry, wat skadelik kan wees.

 

Navorsers in Swede het bevind ’n daaglikse aanvulling van magnesium laat die voorkoms van nierstene met byna 90% afneem. Hulle reken die magnesium werk omdat dit met oksalaat kan verbind. Vitamien B6 kan ook die hoeveelheid oksalaat in die urien verlaag. 10 mg hiervan per dag is voldoende.

 

Bly aktief, want onaktiewe mense is geneig om baie kalsium in die bloedstroom te akkumuleer.

Vra jou dokter of dieetkundige hoe jy dieetaanpassings kan maak.

 

Bron: Vrouekeur

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?