Deon Groot: die sanger uit die Namakwaland

Deon Groot is die sanger uit die Namakwaland wat sy hart se klanke volg. Hy is ook ons musiekster van die week. Ons het gaan aanklop.

Wie is Deon Groot?
Uit die hartjie van die Namakwaland kom ’n liedjieskrywer en sanger wat die Afrikaanse mark met ’n storm getref het. In sy eerste jaar op die horison het hy met sy eerste enkelsnit, Bietjie Liedjie, vele nommer een posisies landwyd raakgeslaan. Hy maak ook konstant sy verskyning op die televisie waarvan Jou Show, Jukebox, Pasella, en chatNOU net ’n paar is. Hy het groot opslae gemaak en het vanjaar by die Ghoema-toekennings opgetree. Hy was ook saam met van ons land se grootste kunstenaars op die Krone 4-verhoog.

Beskryf jou debuutalbum
My debuutalbum is basies ’n inleiding tot wie Deon Groot is. Elke liedjie het ’n storie en ’n rede hoekom ek dit geskryf het. Elke liedjie dra ’n boodskap en sommiges is net lighartig vir ons om op te kan toonstoot. Die album beskik oor liedjies van my kindsbeen jare sowel as liedjies wat trek na dinge wat met my gebeur het of ek ervaar het. Ek noem dit my hartsklanke want elke liriek het sy aandeel tot my menswees diep gegrond.

Hoe het dit gevoel om ’n album in jou hand te hou?
Ek’s ’n dromer en meer en deels was dit ’n oomblik wat ek nie aan enigiemand kan beskryf nie. Ek’t so lank gewerk tot hierdie punt en om dit actually te kon vashou het my nostalgies laat voel op soveel maniere. Iets wat ek kan terugploeg vir ons mense, vir Afrikaans.

Waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Oor tien jaar van nou glo ek, sal ek steeds besig wees met stories, meer grys en sekerlik wyser. Met dit ook baie foto’s van vriende wat ek op my pad ontmoet en met wie ek ’n afstand stap. Sal graag oor tien jaar steeds wil toer en musiek maak. Miskien my eie program op die been bring waar ek mense meer kan leer van ons natuur en so.

Watter geheime talente het jy?
Bwahahahha, wel ek dink my beste talente sal sekerlik wees my boudskud. Nee, ek grap sommer. My geheime talente glo ek is my groen vingers. Ek kan ook ’n bokdrolletjie vrek ver spoeg. Mag ek sê bokdrolletjie?

Wat is jou grootste droom?
My grootste droom is ek besig om elke dag te leef. Ek sal graag eendag vir my ouers wil teruggee wat hulle soveel jaar vir ons gebied het. Net ’n ietsie teruggee vir hulle om dankie te sê vir wie ek is, maar om dankie te kan sê dat ek kan doen waarvoor ek lief is. My droom is om saam met hulle eendag ’n glasie wyn te drink en te kan lag en gesels oor van die mooi en sleg en goed en kwaad en steeds wees soos ons is. Almal lief vir mekaar in ons gesin.

Wie is jou rolmodelle in die musiekbedryf plaaslik?
Rolmodelle en ’n vriend in die musiekbedryf is definitief iemand soos Adam Tas. Hy is ’n genuinemens.

En internasionaal?
Beslis Hootie and the Blowfish. Darius Rucker het net ’n manier om met sy stem te werk.

Saam met watter kunstenaar sal jy graag ’n duet wil doen?
Ek sal graag ’n duet met Corlea Botha wil doen of selfs die manne van Die Heuwels Fantasties.

As daar een ding is wat jy van die aardbol af kan laat verdwyn wat sal dit wees?
Een ding wat ek van die aardbol af wil laat verdwyn is hoe ons na ander mense kyk en hoe ons hulle sien of hanteer. Ek weet vir ’n feit dat almal foute het en dat niemand na ander moet kyk en hulle foute uitwys nie, of neerkyk op ander as gevolg van dit nie. Wees bedag en vriendelik want ons almal is mens. Niemand is beter of meer werd as ’n ander nie.

Waar kan mense jou op sosiale media kry?
Mense kan my op Facebook (www.facebook.com/deongroot), Twitter (@DeonGroot) en Instagram (@deongroot) kry. Vir konsertbesprekings kan hul my agent skakel op 0769456515 of e-pos by info@nvrmanagement.co.za.

Berig verskaf deur Sterre. Vir nog nuus en artikels, besoek Sterre se webtuiste by sterre.co.za/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?