Breathe – ’n Inspirerende verhaal oor liefde, hoop en deursettingsvermoë

Wat sou jy doen as jou man se lewe ewe skielik onherroeplik verander en hy is by moedopgee se deur? Jy weier dat hy opgee en help hom leef met jou liefde, net soos wat Diana Cavendish (Claire Foy) gedoen het in hierdie inspirerende ware verhaal, wat eersdaags lewe kry op die silwerskerm.

Breathe is akteur Andy Serkis (Lord of the Rings, The Hobbit: An Unexpected Journey, Rise, Star Wars: The Force Awakens, Dawn of the Planet of the Apes) se debuut as regisseur en hy het baie nou saam met draaiboekskrywer, William Nicholson (Gladiator, Les Misérables, First Knight) gewerk om hierdie storie van sy beste vriend en vervaardiger, Jonathan Cavendish (Bridget Jones’s Diary, Elizabeth: The Golden Age) se ouers met sensitiwiteit en empatie te vertel.

Wanneer die agt-en-twintigjarige avontuurlustige en charismatiese Robin Cavendish (Andrew Garfield) skielik verlam raak nadat hy polio in Afrika opgedoen het, is sy lewe aan skerwe. Maar gelukkig vir hom, weier sy vrou om op te gee en neem sy hom huistoe, teen almal se aanbevelings. Haar liefde en positiewe gesindheid help hom deur hierdie moeilike tyd van sy lewe en hulle besluit saam om nie toe te laat dat hierdie siekte hulle onderkry nie. Hulle gebruik ook hul lewenslus en humor om ander, wat in moeilike omstandighede is, te inspireer en ’n bietjie nuwe tegnologie maak dit vir hom moontlik om uit die bed uit te kom en nuwe avonture te ervaar. Hy word later een van die grootste kampvegters vir gestremdes, regoor die wêreld.

Die fliek, wat afspeel in die 1950’s. spog nie net met pragtige dekor en kostuums nie, maar ook met ’n sterbelaaide rolverdeling. Andrew Garfield, wat Robin speel, is veral bekend is vir sy rolle in The Social Network, Never Let Me Go, The Amazing Spider-Man en Silence. Claire Foy, wat die regkry om Diana Cavendish se persoonlikheid perfek vas te vang, is bekend vir haar rolle in Season of the Witch en Going Postal. “Die belangrikste ding wat ons moes verstaan en vasvang, was die paartjie se liefde vir mekaar. Ek wou haar nie oorsentimenteel laat voorkom nie en sy moes ook nie soos ’n weldoener, engel of ongelooflike tipe verpleegster lyk nie. Want hulle liefde was ware liefde,” sê Foy oor haar voorbereiding vir die karakter. Hugh Bonneville, wat al benoem is vir BAFTA-, Emmy- en Golden Globe-toekenning vir sy rol in Downtown Abbey, en Tom Hollander (Mission Impossible, About Time, Pirates of the Caribbean) is ook in die fliek te sien.

Breathe is in September by die Toronto Internasionale Rolprentfees bekend gestel en is ook tydens die openingsaand van die BFI London Film Festival vertoon. Dit is reeds benoem vir ’n Archie-toekenning vir Beste Debuutspeelfilm by die Philadelphia-filmfees en Beste Grimering- en Haarontwerp en Klank by die Onafhanklike Britse Filmtoekennings. Tydens die Heartland-rolprentfees is dit bekroon met die Hartroerende Film-toekenning.

Hierdie storie van hoop is ’n inspirerende en emosiebelaaide liefdesverhaal wat die dapperheid van menswees vier en kykers aanmoedig om die beste te maak van elke oomblik van die lewe. Dit sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme, maar veral ook as jy gehou het van The Theory of Everything, Lion, The Imitation Game en Brooklyn.

Breathe word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal landwyd vrygestel word op 19 Januarie 2018.

Sosiale media skakels:
Facebook: https://www.facebook.com/BreatheFilmUK/
Twitter: @BreatheMov
Instagram: @breathemov

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?