Braai saam met Klawer Wynkelder op Erfenisdag

Op Sondag, 24 September, bied Klawer Wynkelder weer ’n aan-die-brand, eg Suid-Afrikaanse viering om Erfenisdag te herdenk. As jy ’n bobaas-braaier, tjoppie-liefhebber of enige braaimeester se regterhand is en jou gaste nie uitgepraat kan raak oor hoe goed jou braaivernuf is nie, moet jy beslis vir hul braaikompetisie inskryf.  

Volgens Franci Nortje van Klawer Wynkelder, is daar plek vir vyftien spanne in die kompetisie. Die inskrywingsfooi beloop R100 en sluit ’n bottel wyn, ys vir die dag, hout en ’n braaidrom in.  Die inskrywingsgelde moet voor Woensdag, 20 September, betaal word om jou span se plek te verseker.  Daar sal drie witwarm beoordelaars wees en al die geregte vir die kompetisie moet op die vuur voorberei word. Die vure word volgens Nortje reeds 9:00 aangesteek en beoordeling vind vanaf 11:00 plaas, maar die spanne is welkom om vroeër daar te wees.

Daar is boonop heelwat groot pryse vir die wenspanne om te wen, maar geen van die spanne sal leë hande huis toe gaan nie. Volgens Nortje sal hulle later die pryse bekend maak.

Gert Engelbrecht gaan almal aan die dans hê en daar sal heerlike skaap-spitbraai vir die publiek te koop wees asook heerlike Klawer-wyn teen lekker afslagpryse. Jy kan ook jou eie kosmandjie bring en op hul lieflike groot groen grasperke piekniek hou.

Die jongspan sal ook besig gehou word met springkastele, gesigverf en nog vele meer. Dit gaan nog groter en beter as laasjaar wees! Klawer Wyn beloof ’n dag vol vermaak, lekker kos en goeie wyn!

Kontak vir Franci of Carin by 027 2161 530 vir meer inligting of om jou span vir die kompetisie in te skryf. Hou ook Klawer Wynkelder se sosiale media dop vir meer inligting!

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?