Boere se geldplanne kan beter

Boere se finansiële beplanning kan verbeter, sê mnr. Jannie de Villiers van Graan SA.
Suid-Afrikaanse boere is in die wêreld bekend as dié wat die maklikste nuwe tegnologie aanvaar en hulle vaar uitstekend daarmee. Kundigheid met bemarking en finansiële beplanning het egter nie in dieselfde mate toegeneem nie, sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

Hy het in ’n Nasie in Gesprek-sessie by die Nampo-Oesdag oor die boere se finansies gesê presisieboerdery het boere baie gehelp om meer winsgewend te wees, maar bemarking en finansiële bestuur is net so belangrik om sukses te behaal.

Mnr. Pieter Swart, uitvoerende bestuurder van Senwes se kredietafdeling, het daarop gewys dat landbouskuld op ’n nuwe rekordvlak van R145 miljard staan. “As mens egter kyk na die skuldverhouding is dit 35% en dit is nog heeltemal ’n aanvaarbare vlak. Boere moet egter nie roekeloos raak nie en hulle geld reg bestee. Die koste van kapitaal gaan styg. Moenie kanse waag nie.”

Aftreebeplanning kort aandag
Al die paneellede was dit eens dat boere nie genoeg aandag skenk aan aftreebeplanning, boedelbeplanning en die invloed van belastings soos kapitaalwinsbelasting (KWB) nie.

Me. Marlize Venter, senior finansiële beplanner by Nedbank, sê die meeste boere onderskat die invloed van KWB. “Weens die feit dat vee nou onderhewig is aan inkomstebelastingwetgewing en nie meer KWB nie, maak byvoorbeeld ’n verskil van R400 000 tot R1,3 miljoen meer belasting in een voorbeeld waarna ons gekyk het. Daarom moet boere nuwe ontledings laat doen om te kyk of hulle tekorte het.”

“Begunstigdes in familiebesighede praat nie met mekaar nie en as die pa doodgaan besef hulle die testament is nie uitvoerbaar nie,” sê Swart. Mnr. Johan Geel, finansiële groephoof van Afgri, beaam dit.

“Boerdery is ’n besigheid en soos met ’n ander groot onderneming, moet alles voortgaan as die uitvoerende hoof doodgaan. Daarom moet ’n testament beplan word om die boerdery lewensvatbaar te hou.”

Beplan vir nageslag
Venter sê net by 41% van boerderye kan die boer onafhanklik van die boerdery aftree en daar moet stappe gedoen word om die res minder afhanklik van die voortgesette boerdery te maak. “Dit plaas ’n groter stremming op die tweede en derde geslag om vir die ouers te bly sorg.”

Swart meen ook dit is een van die groot redes hoekom boerderye faal. “Daar is te veel mense wat salarisse trek. By ’n saaiboerdery is salarisse alreeds sowat 10% van produksiekoste en in baie ander gevalle is dit hoër. As jou indirekte koste al hoe hoër word kan dit probleme skep.”

De Villiers glo as ’n boerdery nie volhoubaar is nie moet gekyk word na ander vennootskappe om dit te versterk. “Die groot geheim is praat net met mekaar en kyk na verskillende modelle.”

 

Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?