Bloednier is dodelik vir skape

Soos haarwurm is bloednier seker een van die belangrikste siektes by skape. Dit kom wêreldwyd voor, oral waar skape aangetref word.

Dit is belangrik om te onthou dat bloednier nie deur insekte, bosluise of mense “ingedra” word, soos met Slenkdalkoors, nie. Die bloednier-bakterie is reeds in die dermkanaal van alle diere teenwoordig en dit maak die situasie soveel gevaarliker. Daar hoef nie gewag te word vir ’n ontploffing in die insekbevolking alvorens ’n mens bloedniergevalle sien nie. Alles is gereed vir die siekte om oornag groot verliese te veroorsaak. Waar dus herkouerdiere is, kan bloednier voorkom.

Die bloednier-bakterie, Clostridium perfringens tipe D, is ’n normale inwoner van die dermkanaal van skape wat in relatief klein getalle in die derm en ook in die grond voorkom. Die bakterieë kom in die diere se mis voor. Dit vorm weerstandige spore in die grond en kan maande lank daar oorleef.

Sodra toestande in die dunderm gunstig raak vir die bakterie, vermenigvuldig die organisme en produseer dit ’n dodelike gifstof (epsilon-toksien) in groot hoeveelhede. Die gifstof veroorsaak ’n nekrose van die dundermwand met gepaardgaande hoër deurlaatbaarheid en gevolglike hoër opname van die gifstof in die bloedstroom.

Die gifstof beskadig die selle wat die bloedvaatjies van verskeie organe uitvoer, maar die opvallendste is die patologiese veranderings in die nier- en breinweefsel. Met die beskadiging van die interne selle van die bloedvate in die brein sien ’n mens dat vog in die brein opdam, met gevolglike senuweesimptome.

Oorsake van bloednier

Verskeie faktore gee aanleiding tot bloednier:

Vinnige verandering van swak tot geil weidings.
Skape op aangeplante weidings, bv. groen hawer, groen koring en groen lusern.
Diere op hoëproteïendiëte.
Die oorvreet aan gewasse of graan.
Ander siektes soos koksidiose.
Skielike verandering in weersomstandighede.
Inname van verlepte grasse.
Die tydsverloop vir die siekte om te ontstaan, wissel tussen 30 minute en 26 ure. Dit kom voor by skape en bokke van alle ouderdomme. Diere wat die hoogste risiko loop, is lammers tussen die ouderdom van drie weke en drie maande, asook diere tussen die ouderdom van ses en twaalf maande. By bokke kom die siekte meestal onder melkbokke voor, maar selfs Angoras kan die siekte onder ekstensiewe toestande ontwikkel.

Verskille tussen skape en bokke

Daar is ’n paar belangrike verskille tussen skape en bokke wat bloednier betref. Hierdie verskille is meer in bestuurstelsels gesetel as die siekte self. Die aanleidende faktore by skape is dus nie so streng van toepassing op bokke nie.

By skape kom die siekte gewoonlik by enkel-lammers van ooie wat baie melk produseer voor en selde by ooie met tweelinglammers. ’n Enkele lam drink al die melk en dit verhoog dus die risiko. In teenstelling hiermee het die meeste bokooie twee of selfs drie lammers, en word die lammers kort ná geboorte van die ooie verwyder. Dus is boklammers se risiko baie laer om bloednier te ontwikkel.

Melkboklammers word ook nie groot hoeveelhede hoë energie-diëte gevoer nie en dus is die kans van bloednier ook kleiner. Bokke is natuurlike blaarvreters en vreet nie soveel welige voer so vinnig soos skape nie. By bokke veroorsaak dit kroniese diarree, wat die dier laat vrek, of kroniese uittering en vermaering. ’n Moontlike verklaring vir hierdie verskille is dat die epsilon-toksien vinniger deur skape in die dunderm geabsorbeer word as deur bokke.

Kliniese tekens

Bloednier kom op verskeie maniere voor. Die baie vinnige vorm by lammers se verloop is ’n paar uur en lammers word gewoonlik net dood aangetref. Jong lammers van drie tot vier weke oud kan koliek-simptome wys, opgeblaas voorkom en dan vrek. Ouer diere kan ook vinnig vrek indien baie oorgroei van die bakterieë plaasgevind het. Tipies word ’n groot aantal skape in die oggend dood aangetref kort nadat die diere se voeding verander het.

Daar is ook ’n kroniese of stadige vorm van bloednier waar die brein aangetas word en die dier senuweesimptome wys. Diere se bene word pap en sommige skape lyk asof hulle in ’n koma is. Sommige skape verloor hul vrees vir honde en mense. Hierdie tipe bloednier word veral by speenlammers (tien tot twaalf weke) en volwasse skape van drie jaar en ouer aangetref.

Die simptome word gewoonlik 14 dae ná dosering teen inwendige parasiete of verskuiwing na goeie weiding waargeneem.

Nadoodse ondersoek

Die nadoodse ondersoek toon gewoonlik geen kenmerkende letsels nie. Gewoonlik is die diere wat gevrek het in ’n goeie kondisie. Diere begin baie gou ontbind, en veral die niere ontbind gou en is pap – dit is waar “bloednier” sy naam gekry het.

As die skaap al ’n ruk dood is, word die volgende patologiese kenmerke gesien:

Die karkas ontbind baie vinnig.
Bloedings onder die vel, veral in die nek-area.
Die longe is geswel en daar is skuim in die lugpyp.
’n Jellieagtige vloeistof in die hartsak.
Klein punt-bloedings op die hartspier en diafragma.
Die derms toon soms ligte bloedings, en is leeg en vol skuim/lug.
Die niere kan pap en bloederig vertoon, maar dit is nie altyd die geval nie.
As ’n toetsstrokie in die uriene geplaas word, wys die resultaat dat suiker teenwoordig is.
Bloednier moet onderskei word van ander siektes wat skielike vrektes veroorsaak, soos blousuurvergiftiging, bloedpens, nekrotiese enteritis, hartwater, gifblaar, gousiekte en suurpens. Die veearts sal ’n diagnose van bloednier maak op grond van die geskiedenis, simptome en nadoodse ondersoek, en dit bevestig met die aanwesigheid van die epsilon-toksien C. perfringens tipe D in die dermkanaalinhoud.

Doeltreffende beheer

As bloednier uitbreek, moet die skape onmiddellik ingeënt word. Alle skape kan ook terselfdertyd met langwerkende tetrasiklien-antibiotika behandel word. Dit sal vrektes voorkom alvorens die diere beskermende immuniteit van die inenting ontwikkel het. Skape moet ook dadelik na swakker weiding verskuif word en dit word aanbeveel dat ’n goeie ruvoer aan die diere gegee word. Skape kan ook elk ’n teelepel blomswawel gegee word.

Inenting van lammers

Aangesien bloednier ’n siekte is wat enige tyd kan toeslaan, is dit baie belangrik dat skape volgens ’n bestuursprogram ingeënt word.

Die aanbeveling is dat lammers die eerste keer ingeënt word as hulle 16 tot 20 weke oud is, of self vroeër (8 tot 12 weke) as hulle jonk gespeen word. Die lammers moet die eerste keer met die olie-emulsie-entstof ingeënt word en ’n tweede inspuiting met die aluin-gepresipiteerde entstof agt weke later ontvang. Hierna moet ’n jaarlikse skraagdosis van die aluin-gepresipiteerde entstof toegedien word.

Lammers wat die eerste keer op die ouderdom van agt tot twaalf weke ingeënt is, moet weer vier weke later ’n skraagdosis van dieselfde entstof ontvang. Hierdie program gee ’n goeie immuunreaksie vir ten minste ses tot agt maande.

Inenting van ooie

Ooie wat voorheen teen bloednier ingeënt was, moet slegs een keer ingeënt word (aluin-entstof) vier weke voordat hulle lam. Dit sal verseker dat die lammers ’n goeie kolostrum-immuniteit kry wat hulle tot op 12 tot 16 weke sal beskerm.

Indien die skaapkudde se bloednier-immuniteit voor toediening van ontwurmingsmiddels onbekend is, moet hulle vier weke voor dosering ingeënt word.

Bokke volg dieselfde program as skape, hoewel inenting by bokke nie so doeltreffend soos by skape is nie. Sommige navorsers stel voor dat bokke verkieslik elke agt maande ingeënt word en nie jaarliks soos by skape nie. Bokke kan ook swelsels by die inspuitingsplek ontwikkel wat met kaasagtige absesse verwar kan word.- Dr Johan van Rensburg

Bron : http://agriorbit.com/bloednier-dodelik-vir-skape/

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?