ATKV-Rieldans uitdunne

Vinnige voete, lekker danspassies, kleurvolle uitrustings en stof wat spat. Op Saterdag, 29 Julie gaan die vierde uitdunronde van die jaarlikse ATKV-Rieldanskompetisie by die sportterrein op Bitterfontein plaasvind.

Volgens Benjamin Bock, bestuurder van die ATKV-Erfenisprojekte, is die rieldanskompetisie een van vier streeksuitdunne wat in die Wes- en Noord-Kaap plaasvind. Die eerste ronde het vroeër vanjaar in Belville afgeskop en daar is gedans dat die biesies bewe.

“Rieldansgroepe kom van Bitterfontein, Garies, Vredendal, Elizabethfontein, Williston, Carnarvon, Barrydale, Robertson en die Kouebokkeveld. Almal sien uit na die naweek,” sê Bock.

Rieldans kan volgens die ATKV met reg as die oudste danssoort in Suider-Afrika gereken word, omdat “die hedendaagse vorm direk na die Khoi-San, eerste bewoners van die streek, herlei word”. Dit sal ook vanjaar die 11de keer wees wat die ATKV dié kompetisie aanbied.

Bock voeg by dat groepe elk ses minute het om ’n storie deur die Riel te vertel. “Diere word uitgebeeld, hofmakery vind plaas en gebeure soos die oestyd in die Boland, of selfs tradisionele Khoi en San verhale en rituele word ingesluit,” verduidelik Bock.

Hierdie uitdunronde begin om 09:30 en toegang kos R10 vir kinders, R20 vir volwassenes en R10 vir voertuie. Kos word ook verkoop, sowel as rieldansmusiek.

Vir meer inligting oor die uitdunne, kontak Benjamin Bock by 021 880 1761 of stuur ’n e-pos na benjaminb@atkv.org.za.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?