ATKV-Oesfees

Die wêreldbekende Suid-Afrikaanse tradisionele musiekgroep Ladysmith Black Mambazo, gaan op 25 Maart by die tiende ATKV-Oesfees op Solms-Delta naby Franschhoek optree.

Chris Kreef, fees direkteur sê: “Ons is baie opgewonde oor vanjaar se ATKV-Oesfees. Die toevoeging van Ladysmith Black Mambazo op die program is ’n kersie op die tienjaarkoek van ons aanbieding van opwindende, oorspronklike Suid-Afrikaanse roots musiek. Ons eer die plaaswerkers en hul families elke jaar vir die harde werk en liefde waarmee hulle die oes op Solms-Delta inbring. Vanjaar gaan ons die ekstra myl stap om ’n lekker feesatmosfeer te skep waarin gesinne vir die hele dag saam met ons kan feesvier. Daar is onder andere vanjaar ’n groter verskeidenheid tradisionele kos en meer pret vir kinders by die SafeKidZone.”

Ladysmith Black Mambazo, onder leiding van die stigter en leier, Joseph Shabalala, maak al meer as 50 jaar lank musiek. Hierdie legendariese a capella-groep het oor die jare ’n buitengewone musikale produk geskep wat al jare lank gehore regoor die wêreld aanraak. Hul musiek het oor die afgelope vyf dekades lof en toekennings van verskeie organisasies en lande ontvang. Hul mees onlangse album, Walking in the footsteps of our Fathers, is vir ’n Grammy in die afdeling vir Beste Wêreldmusiekalbum 2016 benoem. Dit is Ladysmith Black Mambazo se 17de Grammy-benoeming. Hulle is vier keer bekroon met die Grammy-toekenning: in 1988 vir Shaka Zulu; in 2004 vir Raise Your Spirit Higher; in 2009 vir Ilembe en in 2013 vir Singing For Peace Around The World.

Ladysmith Black Mambazo toer gereeld in die buiteland en het al met ’n hele rits bekende kunstenaars onder andere Paul Simon, Stevie Wonder, Dolly Parton, Sarah McLachlan, Josh Groban, Emmylou Harris, Melissa Etheridge saamgewerk. ’n Rolprentdokumentêr getiteld On Tip Toe: Gentle Steps to Freedom, die verhaal van Ladysmith Black Mambazo, is vir ’n Oscar benoem. Hulle het ook al op Broadway verskyn en is vir Tony-toekennings benoem. Tuis in Suid-Afrika het hulle ook vele SAMA-toekennings gewen.

Ladysmith Black Mambazo deel die verhoog by die ATKV-Oesfees met ’n hele rits talentvolle musikante. Die Music van de Caab-groepe en -orkeste (onder leiding van Adriaan Brand) wat vanjaar gaan optree, sluit in: Delta-Langbroeke, Klein Handjies-Kinderkoor, Delta Valley Entertainers, Die Soetstemme en Lekker Lekker Delta. Dan is daar ook optredes deur Die Papier Family Band en die gewilde Hannes Coetzee. Bekende groepe en topmusikante wat vanjaar op die verhoog gaan wees, is die Radio Kalahari Orkes, The Rudimentals, Manouche, Brain Cloete, Hezron Chetty, Churchil Naudé, Die Wasgoedlyn, Akkedis, Hemelbesem en Yoma, Les Javan, Riku Lätti, Bacchus Nel, Jackie Lätti, Nick Turner, Tribal Echo en African Jazz Pioneers. Kyk ook uit vir die ATKV-Rieldanskampioene wat elke jaar vastrap dat die stof so staan en die gehoor aan hul voete het. Vanjaar se rieldansoptrede is deur die 2016-wenners in die junior kategorie: Die Betjies van Betjiesfontein, asook vorige wenners Die Nuwe Graskoue Trappers.

Tradisionele Kaapse geregte soos waterblommetjiebredie, braaivleis, Kaapse kerrieafval en koeksisters sal op die dag gekoop kan word, asook ’n verskeidenheid van Solms-Delta se wyne.

Kom geniet die dag saam met jou hele gesin.

Toegang:
Kaartjiepryse tot 24 Maart: R120
Kaartjies by die hek op dag van die fees: R150
Kinders, twee tot 12 jaar: R40
Kinders onder twee jaar gratis. Elke kind kry ’n feesbandjie sodat die organiseerders weet presies hoeveel mense en kinders op die perseel is.

Daar is ook ’n spesiale, veilige gebied vir kinders wat deur Cre8tive Kids bestuur word. Ouers kan hul kinders hier inteken en ’n bekwame span sal sorg vir lekker speletjies en ander prettige aktiwiteite om die kinders besig te hou.
Koop jou kaartjies hier:
Aanlyn: https://plankton.mobi/Events/EventBooking/a6208ea9-60d5-4782-954d-7acf83be3a5d
Computicket. http://online.computicket.com/web/event/atkv_oesfees_2017/1106925196/0/77412035
Solms-Delta-proe-lokaal Deli.
Shoprite Checkers

Webtuiste en sosiale media:
Facebook: https://www.facebook.com/DieOesfees/
Twitter: @DieOesfees #ATKVoesfees.
Instagram: atkvoesfees
Webtuiste: www.oesfees.co.za en http://www.solms-delta.co.za/oesfees/

Feesnavrae: 021 874 3937.

ATKV-Oesfees 2017 in samewerking met kykNET, RSG, Boschendal.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?