Antibiotika: Strategie teen weerstand

Suid-Afrika se antimikrobiese middel-strategie gaan meer met internasionale riglyne ooreenstem.
Die nuwe strategie om antimikrobiese weerstand te verminder moet nie as ’n heksejag gesien word nie, maar eerder ’n manier om te verseker dat hierdie tipe middels vir komende geslagte beskikbaar sal wees.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) se strategiese dokument teen antimikrobiese weerstand (AMR) is tot 30 April nog oop vir kommentaar.

Die doel van die strategie, wat deel vorm van die Antimikrobiale Weerstand Nasionale Strategie-raamwerk is om ’n omvattende struktuur te skep om AMR te bestuur en toekomstige gevalle van weerstandigheid te beperk.

Omvattende verandering
Die department voorsien ’n omvattende verandering in die benadering om AMR teë te werk, insluitende ’n heroënskou van geregistreerde antimikrobiale byvoedingsmiddels, asook sekere wetlike veranderinge, insluitende ’n omvattende hersiening van die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet No. 36 van 1947).

Die hersiening van die wet sal egter eers plaasvind ná deeglike navorsing om die impak van moontlike veranderinge op die dierevoedingsbedryf vas te stel. Die departement sê ook in die verslag dat die gebruik van antimikrobiese middels in voedselproduksie meer met internasionale standaarde sal moet ooreenkom. Dit behels opleiding vir veeartsenykundige personeel, asook ’n jaarverslag rondom die gebruik van antimikrobiese middels met inligting van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens word in die vooruitsig gestel.

Dis nie heksejag nie
Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, meen die veranderinge wat in die vooruitsig gestel word, moet nie as ’n heksejag gesien word nie. “Die regulering en toepassing van die AMR-strategie gaan daaroor dat antimikrobiale middels verantwoordelik gebruik word. Die gebruik van hierdie middels gaan dus nie voor die voet stopgesit word nie, daarvoor is hierdie middels té belangrik. Die plan is egter om dit só te gebruik dat toekomstige generasies steeds toegang sal kan hê tot hierdie nuttige stuk gereedskap,” sê hy.

Vervoort meen ook dat die strategie ’n unieke en nuwe manier van samewerking tussen dieregesondheids- en menslike gesondheidsmedici bewerkstellig. “Samewerking tussen die twee dissiplines was in die verlede nie heeltemal so goed as wat dit kon wees nie. Hierdie situasie skep nou die geleentheid vir die twee om beter saam te werk, omdat AMR nie net tot dieregesondheid beperk is nie. Sodoende kan ons ’n veel beter strategie ontwikkel vir die gebruik van antimikrobiese middels.”

SA het regulasies gehad
Hy het ook benadruk dat Suid-Afrika veel beter met antibiotika omgaan as verskeie ander lande ter wêreld. “Suid-Afrika het, wat antimikrobiese middels aanbetref, regulasies gehad voordat AMR ’n kwessie geword het. ’n Hele aantal lande het nooit dergelike regulasies gehad nie, en moet nou daarmee begin. Van ons kant af sal ons net seker maak dat ons regulasies wel ooreenstem met standaarde wat onder meer deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid daargestel is.”
Bron: Landbou.com

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017 . Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?